Vrou se lewe verander oombliklik toe rob haar aanval

Deel hierdie storie / Share this story

Katharine Liese het op 22 September met groot verwagting ‘n inskrywing op Facebook gemaak van hoe gereed sy vir ‘n vakansie is. Maar wie sou dink dat haar volgende inskrywing eers ‘n maand later sou volg nadat ‘n rob haar op Vishoek se strand aangeval het?

Met haar laaste inskrywing op 22 Oktober het sy haar dankbaarheid uitgespreek om tuis in Vishoek wakker te word en het sy verklaar dat sy reg is om met ‘n nuwe hoofstuk in haar lewe te begin.

Haar nagmerrie het skaars ‘n minuut nadat hulle op 24 September ‘n foto op die strand geneem het, begin. Daarna het haar lewe onherroeplik verander.

Die foto in die berig was pas geneem toe sy skielik, sonder rede, deur ‘n rob aangeval is. In die gruwel-aanval moes sy op die sand vir haar lewe baklei en is in een oomblik van bonatuurlike krag deur ‘n vriendin gered.

Ernstig beseer en met geskeurde klere het sy op die strand aangesukkel tot waar sy hulp by Fish Hoek Surf Livesaving Club, wat op daardie dag Erfenisdag met ‘n braai gevier het, on kry.

Katharine het 23 wonde aan haar arms en bene gehad en is met ‘n ambulans na ‘n hospitaal geneem, waar sy vir die volgende 17 dae 12.5 uur se operasies moes ondergaan.

In hierdie tyd moes sy 20 inspuitings teen hondsdolheid kry, asook twee veloorplantings en ‘n rits mediese prosedures ontvang op die pad na herstel.

Sy het net lof en dank vir die verskeie werkers en mediese personeel by die hospitaal waar sy opgeneem was – van die skoonmakers, portiers, teatersusters, narkotiseur, plastiese chirurg en dokters wat haar deur hierdie moeilike tyd gedra en met alles gehelp het.

“Suster Jean, suster Pam en hul spanne wat met soveel grasie aandag aan my gegee het en saam met my om 03:00 in die donker gesit het wanneer ek in my slaap gehuil het.”

Selfs personeel se menslikheid en gaafheid tydens badkamersessies het die negatiewe oorskadu.

Ondersteunende boodskappe het van regoor die wêreld ingestroom en vriende en haar skoonsusters van Zambië het haar ondersteun. Sy is dankbaar vir haar werkgewer en hoof- uitvoerende beampte se ongelooflike ondersteuning saam met kollegas wat sonder vrae vir haar ingestaan het.

“Ek voel oorweldig, nederig, dankbaar en vol lewe,” het Katherine afgesluit.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.