‘n Babadogtertjie (10 maande) is in die bosse in Osindisweni, KwaZulu-Natal, gelaat terwyl haar ma (16) glo partytjie gehou en haar pa (30) na bewering in ‘n kroeg was.
Reaction Unit South Africa het gisteroggend ‘n oproep om hulp van ‘n ontstelde inwoner ontvang nadat die baba se ma (16) na bewering by haar huis opgedaag het om die baba op te eis nadat sy gehoor het wat met haar baba gebeur het.
Met Rusa se aankoms by die huis het woedende inwoners verduidelik dat ‘n verbyganger die baba die vorige aand in bosse langs ‘n kroeg ontdek het.
Die persoon het eers gedink dat die baba dalk dood was, maar het vinnig ontdek dat die baba slegs aan die slaap was. Hy het hulp van ‘n vrou by die kroeg gevra, maar sy was klaarblyklik te besope. Die man het hierna die baba aan sy ma oorhandig om haar veilig te hou.
Toe die ma van die baba eis om die kind terug te kry, het die inwoners geweier en Rusa gekontak.
Volgens die 16-jarige ma het sy ‘n huispartytjie in die omgewing bygewoon en het haar 30-jarige kêrel gevra om na die baba om te sien.
Hy het glo met die baba na die kroeg gegaan en haar in een of ander stadium van sy “kuier-aand” in die bosse gelos. Hy kon nie gevind word nie.
Rusa het die baba en ma aan die SAPD oorhandig vir verdere ondersoek.
FiND iT Nuus het vir kommentaar van die polisie gevra.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



