Zarita (13) kry nuwe vellies na sy hare met vuurslaan op plase gate brand

Deel hierdie storie / Share this story

Zarita Boshoff (13) van Aroab in Namibië is ‘n plaasnooi in murg en been. Haar ouers, Pieter en Janine, boer net buite Aroab en die tiener se omgewing, mense, diere en die plase lê haar na aan die hart.

Sy gaan skool op Keetmanshoop, ongeveer 180 km van die huis af en is in die week in die skoolkoshuis. Toe sy dus onlangs een Vrydagmiddag by die huis kom, het sy dadelik haar bekommernis met haar pa gedeel.

Dit het gebrand in die Karasberge en sy wou net gaan help vuurslaan. Dit is ongeveer 80 km van hulle plaas af, maar sy was vasberade: “Pappa, ons bid al heelweek vir die boere in die Karasberge, maar ons moet iets meer doen. Dit voel net gebede sonder aksie is leeg.”

Foto’s verskaf

Hoe weier ‘n pa so ‘n pleidooi vir die omgewing waarin hy en sy vrou beide op plase grootgeword het? Hy het onmiddellik ingestem dat hulle die volgende oggend sou gaan help, met ‘n voorstel dat hulle solank die “vuurvegter” voorberei en laai.

Met ‘n koppie koffie en as motivering haar woorde van die vorige aand het sy haar pa die volgende oggend om 05:00 wakker gemaak.

Janine verduidelik dat Zarita met die “vuurvegter” gespuit het en waar hulle nie kon ry nie, het hulle vuur geslaan, partykeer met ‘n overall baadjie en ‘n emmertjie water.

Hierdie stoere plaasnooi het sommer waar klein graspolletjies gebrand het dit met haar vellies doodgetrap en waar Pa te moeg geraak het, het sy oorgeneem.

“Toe haar voete brand, het sy dit sommer met die vuurvegter natgespuit en deurgedruk…”

Pa en dogter het die aand elfuur moeg maar tevrede tuis gekom nadat die vuur geblus was.

“Net die volgende week het dit op ons buurplaas gebrand en Zarita was net ‘n halfuur op die plaas toe sy klaar weer in die span was om te gaan help vuurslaan.”

Haar vellies wat sy met die vuurslanery aangehad het, het egter gate gebrand. Janine het dit op haar sosiale media geplaas en dit het versprei. “Vellies vir ‘n Boer” het Zarita met behulp van Engen 1 Stop/ Wimpy op Mariental met ‘n nuwe paar “vellies van hoop” uitgerus as dank vir haar onbaatsugtigheid teenoor boere van die omgewing.

“Haar gebede mét daadwerklike aksie het beslis ‘n groot verskil in ons omgewing gemaak,” sê Janine.

Zarita, wat ‘n veearts wil word, is mal oor atletiek, maar veral oor netbal en ma Janine sê dat die twee van hulle maar altyd diere red en grootmaak en deel met trots foto’s. Chené, Zarita se ouer sussie, het weer ‘n baie groot liefde vir mense en wil graag sielkundige word.

“Zarita sê elke dag vir haar pa sy gaan die plaas vat, maar ons wil hê sy moet eers gaan studeer.”

Op ‘n vraag van FiND iT Nuus of hulle dink die plaas en vlakte-omgewing is wat die meisies se liefde en respek vir mens en dier aanleer, antwoord Janine soos volg:

“Die meisies word nie anders grootgemaak as wat ons grootgeword het nie. Ek het in die verre Noordweste van Namibië grootword en het op die ouderdom van ses jaar reeds geweet hoe om my gesin en omgewing te beskerm. Pieter het in die Suide van die land in die Kalahari opgegroei, naby aan die omgewing waar ons tans is. Daar was nie altyd hulp nie en ons moes van jongs af leer om te werk.”

Foto’s verskaf

“Zarita en Chené het elkeen ‘n klein skaapboerdery en ons help waar ons kan, maar as hulle meer goed nodig het, moet hulle dit self koop met hul geld. So hulle moet al van vroeg leer waar die botter en brood vandaan kom,” sluit Janine af. Sy sê sy kan nie glo haar dogter se storie sal so gedeel word en soveel mense aanraak nie.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.