Man vertel hoe hy meisie se baas vermoor oor R50

Deel hierdie storie / Share this story

’n Man (41) wat sy meisie se baas se keel afgesny het oor R50 is tot 25 jaar tronkstraf gevonnis.

Martin Grieb het Donderdag skuldig gepleit in die Pietermaritzburg-hooggeregshof op die moord van Vernon Wilton Viviers in Augustus vanjaar.

Grieb het in sy pleit vertel dat sy meisie vir Viviers gewerk het. Op 8 Augustus het hy saam met haar na die winkel gegaan en vir Viviers gevra vir ’n R50-voorskot vir sy meisie vir die dag.

Viviers het glo geweier en hulle het begin stry en handgemeen geraak.

Grieb het gesê hy het Viviers oorrompel, hom op die winkelvloer neergegooi en op hom gaan sit. Hy het sy meisie gevra om vir hom ‘n mes te kry, wat sy gedoen het. Grieb sê hy het Viviers gesteek en sy keel oopgesny en hom doodgemaak.

Hy het gesê hy en sy meisie het probeer om die bloed skoon te maak, maar is gesteur deur ‘n private sekuriteitsmaatskappy wat gereageer het op die bakleiery.

Toe hy gevra is wat aangaan, het Grieb erken dat hy Viviers vermoor het “oor ‘n argument wat te ver gegaan het”.

Voordat die polisie opgedaag het, het Grieb en sy meisie gevlug, maar is gou in bosse naby gevind en in hegtenis geneem.

Grieb se meisie is ook aangekla en behoort volgende week in die hof te verskyn.

Bronne: IOL, African News Agency, 247 News

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel

Lees ook: Stel Gautrein-werker weer aan wat entstof geweier het – sê KVBA