Solidariteit het vandag die inhegtenisneming van Matshela Koko, sy vrou Mosima en sy stiefdogter Koketso Chom weens beweerde korrupsie by Eskom verwelkom.
Hierdie inhegtenisnemings volg nadat Solidariteit vroeër vanjaar strafklagte teen Koko en ander by die Brooklyn-polisiekantoor aanhangig gemaak het.
Solidariteit sê hoewel hierdie inhegtenisnemings positief is, verdien Suid-Afrikaanse burgers nou ook onmiddellike optrede vanaf die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) sowel as nog stappe teen die ander beweerde staatskapers wat in sy strafklagte verskyn.
“Die absolute onreg van jarelange korrupsie en diefstal kan nie langer voortduur weens ʼn oneindige gesloer van ons strafregtelike stelsel se kant af nie. Hierdie sake moet verder gevat word. Hierdie stap is ʼn baie goeie tree in die regte rigting, maar daar moet deurlopende druk op ons veiligheidsdienste wees om hulle werk te doen, en enige verdere gesleep van voete sal nie geduld word nie,” verduidelik dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.
“Staatskapers het werkers se werk en toekoms asook belastingbetalers se swaarverdiende geld gesteel. Ons kan nie toelaat dat werkers se werk en geld gesteel word en plunderaars vry rondloop met al die geld nie. Dit is ons plig om namens ons lede te help om staatskapers te vervolg,” sluit Hermann af.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



