Ontvoering van munisipale bestuurder en haar motorbestuurder – losprys nou geëis.
Kyk die video van die ontvoering hier.
Margaret Skosana (40) (Maggy), munisipale bestuurder van Nkangala in Mpumalanga en me. Gugu Mtsweni, haar vroulike motorbestuurder, is op die 20ste Oktober buite die hekke van die munisipale kantore ontvoer.
Mike Bolhuis van Specialised Security Services sê daar is intussen ‘n R5 miljoen losprys vir die veilige terugkeer van beide vroue geëis.
Bolhuis het ‘n span onder leiding van mnr. Morney Vos saamgestel wat help om na die vermiste dames te soek. Die ontvoerders is deur die span geïdentifiseer as beweerde lede van Boko Haram wat ‘n hoogs georganiseerde sindikaat bedryf wat glo met soortgelyke ontvoerings, die roof van kontantwaens, gewapende rowe en ander misdade verbind kan word.
Brigadier Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, sê hulle is na bewering deur mans wat in ‘n wit sedan ry met blou ligte en polisieuniforms aan, ontvoer. Haar voertuig en rolstoel met beide se besittings is later in Kriel, Mpumalanga gevind. Die voertuig was nog aangeskakel tydens die ontdekking.
Nog geen arrestasies is gemaak nie en die polisie versoek hulp om die vermiste persone op te spoor.
Enigiemand met inligting kan lt.kol. Mandla Motha by 082 462 2746 kontak.
Bronne: Middelburg Observer en SAPD
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



