Nuwe kleuterskool vir Kimberley

Deel hierdie storie / Share this story

Stephné Kriek, die nuwe eienaar van Wonderland Kleuterskool, brand van opgewondenheid om haar liefde en passie vir kinders uit te leef wanneer sy in Januarie 2023 dié nuwe kleuterskool open.

Stephné, wat die Pikkie Stimulasiesentrum in Croxfordsingel 7, naby die Laerskool Newton oorgekoop het, vertel sy sien verskriklik uit daarna om voort te bou op die skooltjie se nalatenskap.

Met drie ervare opvoeders aan haar sy sien sy uit daarna om die kleuterskool na ‘n nuwe vlak te neem met haar intensiewe klassies om kinders vir grondslagfase voor te berei. 

“Kleuters moet speel, hulle kreatiewe denke ontwikkel en perseptuele vaardighede baasraak,” vertel sy.

Kriek, self ‘n mamma van drie, het haar onderwysgraad in 2005 aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi. Daarna het sy in London gaan onderrig gee en ongelooflike ervaring opgedoen.

Stephné het toe haar loopbaan as grondslagfase-onderwyseres by Laerskool Eureka in die stad voortgesit. 

Sy vertel sy het in 2013 met die geboorte van haar en haar man, Jacques, se eerste kind, Stephan, haar onderwyspassie eers opsy geskuif om haar eie rakkertjies ten volle te ontwikkel. Jané is in 2015 gebore en Mienke in 2018.

Tesame met haar betrokkenheid by haar man se ondernemings, wat insluit die was dit vir Stephné ‘n bedrywige nege jaar as huismamma.

“Die geleentheid het hom voorgedoen om ‘n bestaande skooltjie oor te koop en omdat al ons kinders ook deur Pikkieland se bekwame hande is, wou ons seker maak ons bou voort op die nalatenskap en die skooltjie gaan nie ten gronde nie,” vertel sy.

“Met die Here as Leidsman, my man se positiewe uitkyk en die Kimberley-mammas se ondersteuning, sal Wonderland Kleuterskool vir baie jare van krag tot krag gaan!”

Vir aansoeke, kontak gerus 082 324 5594.