Dié botterverrykte broodjie, ’n eg Franse gunsteling, is heerlik vars en maak ook fantastiese roosterbrood.
Genoeg vir: 2 brioche-brode of ’n hele spul brioche-oliebolle
Bereidingstyd: 40 minute, plus rystyd
Oondtemperatuur: 200 °C
BESTANDDELE:
500 g meel
10 ml sout
10 g kitsgis
70 ml warm melk
6 eiers
350 g botter
30 g tuisgemaakte vanieljesuiker
MAAK DIE DEEG:
Sif die meel en sout saam in die bak van ’n elektriese menger.
Maak ’n holte in die middel en gooi die gis en warm melk daarin.
Laat staan vir 3 minute of tot die gis bruis.
Klik die deeghaak in die menger, voeg die eiers by die meel en meng vinnig vir 10 minute.
Room intussen die botter en vanieljesuiker.
Na 10 minute se meng kan jy die geroomde botter lepel vir lepel byvoeg; meng goed ná elke byvoeging.
Hou aan meng vir nog 5 minute nadat al die botter ingemeng is.
Haal die bak van die menger af en bedek dit met gesmeerde kleefplastiek. Laat staan vir sowat 4 uur op ’n warm plek om te rys.
Keer die deeg op ’n skoon oppervlak uit en druk dit ’n paar keer plat.
Sit die deeg nou in ’n gesmeerde mengbak, bedek weer met gesmeerde kleefplastiek en los oornag in die yskas. (Omdat brioche so ’n sagte deeg is, vorm dit makliker wanneer dit koud is.)
METODE VIR BRIOCHE-OLIEBOLLE:
Rol die brioche-deeg op ’n meelbestrooide oppervlak uit tot ’n dikte van sowat 1,5 cm. Gebruik ’n ronde koekiesnyer van 10 cm om oliebolle uit te sny en gebruik dan ’n klein1,5 cm-snyer om die gaatjie uit te sny.
Rol ook dié deeg in ’n balletjie om te braai – die kombinasie van ringe en balletjies lyk alte mooi.
Pak nou versigtig die uitgedrukte vorms op ’n gesmeerde bakplaat en laat rus vir sowat 20 minute.
Hulle sal effens oppof namate hulle rys.
Diepbraai die ringe en bolletjies in warm olie teen 180 °C as jy ’n termometer het, of toets met ’n broodblokkie (wanneer die blokkie brood vinnig na die oppervlak styg en in ’n goudbruin kleur verander, is die olie reg). Braai net ’n paar oliebolle op ’n slag en dreineer dit op kombuispapier. Rol die oliebolle in fyn vanieljesuiker terwyl dit nog warm is (die deeg op sy eie is nie juis soet nie).
WENK: Meng 150 ml versiersuiker met 5 ml vanieljegeursel en genoeg water om ’n loperige glansversiersel te maak en bedruip die warm oliebolle daarmee.
Bron: Tuis Mobi
Plasing: Henriette Wessels / WATERTAND RESEPTE VIR OUD EN JONK
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



