Donderdag om ongeveer 18:35 is ‘n vermeende blouligrower in besit van ‘n vervalste polisie-ID-kaart op die R28, Krugersdorp, Gauteng, gearresteer.
Lt.kol. Mavela Masondo, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die uitstekende waarnemingsvermoë van genl.maj. Fred Kekana, die distrikskommissaris van die Wes-Rand, wat saam met ‘n konstabel gery het toe hulle ‘n ongemerkte VW Polo wat glo met blou ligte toegerus is, opmerk, het tot die arrestasie gelei.
Die beamptes het die verdagte voertuig voorgekeer en die bestuurder ondervra wat beweer het dat hy ‘n polisiebeampte is. Hy het ‘n vals polisie-ID-kaart, waarmee elke polisiebeampte uitgereik word, ten toon gestel.
Met verdere ondervraging is gevind dat hy glo nie ‘n polisiebeampte is nie en ook nie magtiging het om ‘n voertuig wat met blou ligte toegerus is, te bestuur nie. ‘n Polisie- koeëlvaste baadjie en ‘n gelisensieerde vuurwapen is glo ook in sy besit gevind.
Hy is gearresteer en sal binnekort in die Krugersdorp-landdroshof verskyn op klagtes van nabootsing van ‘n polisiebeamtpe, en die gebruik van blou ligte sonder wettige magtiging.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



