Pa gearresteer na hy glo driejarige se keel sny en amper sy dood veroorsaak

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Voorval van beweerde gesinsgeweld deur ‘n 29-jarige pa van Msholozi in Kwamhlanga, Nelspruit, het Sondag byna die lewe van sy driejarige seun geëis.

Kol. Donald Mdhululi, provinsiale polisiewoordvoerder van Mpumalanga, sê die ouers van die kind is nie meer in ‘n verhouding nie, maar het Sondag in ‘n beweerde insident van gesinsgeweld handgemeen geraak.

Na bewering het die pa die kind by sy ma gegryp en na ‘n informele woning gehardloop waar hy glo die kind se keel gesny het.

Die ma wat voorheen ‘n beskermingsbevelaansoek teen die man gebring het, het onmiddellik die polisie in kennis gestel.

Polisielede het hul na die toneel gehaas, die woning binnegegaan en die kind met ‘n snywond aan sy keel gevind. Die kind is vir mediese behandeling na ‘n hospitaal geneem.

Daarna is die man in sy eie woning opgespoor. Hy het glo aan hulle gesê dat hy ongesiens van die woning gevlug het, waar hy die kind gelos het om arrestasie te ontduik.

Hy is gearresteer en sal na verwagting vandag in die Kwhamhlanga-landdroshof verskyn op ‘n aanklag van poging tot moord. Die moontlikheid bestaan dat nog klagtes ten opsigte van oortreding van ‘n beskermingsbevel ook by die hoofklagte gevoeg kan word.

Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela het die insident waarin die onskuldige kind ‘n slagoffer in sy ouers se geveg was ten sterkste veroordeel.

“Dit is ‘n skandelike daad wat na bewering deur ‘n pa teen sy eie vlees en bloed gepleeg is. Ons is regtig bekommerd oor die soort voorbeeld wat ons vir ons kinders stel. Ouers moet nooit kinders misbruik deur hulle as skild of wapens te gebruik tydens huishoudelike gevegte nie. Ons hoop die hof sal beslissend optree teen die plegers van geweld teen kwesbare groepe,” het genl. Manamela gesê.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel