Ouer doodgeskiet wat kaping reg voor skool se hoofhek probeer keer

Deel hierdie storie / Share this story

Eugene Tshililo, ‘n ouer wat sy kind by Laerskool Faranani, Protea-boulevard, Protea Glen in Soweto op Dinsdag 11 Oktober wou gaan haal, is om ongeveer 14:00 doodgeskiet toe hy probeer keer het dat ‘n voertuig wat skoliere vervoer, gekaap word.

Steve Mabona, woordvoerder vir onderwys in Gauteng, sê die voorval het reg voor die skool se hoofhek van die oorledene se kind (7), personeel en leerders gebeur.

Matome Chiloane, LUR vir onderwys in Gauteng, sê hy is verpletter deur die voorval.

“Ons wens om ons diepste medelye aan die familie van die dapper ouer wat probeer het om hierdie kriminele daad te keer en sy lewe verloor het, uit te spreek. Sielkundiges ondersteun die skool om nodige berading en ondersteuning te verskaf aan dié wat die voorval aanskou het,” sê Chiloane

Geen arrestasies is tot dusver gemaak nie.

Die LUR het Woensdagoggend tydens ‘n besoek aan die skool in ‘n video-opname gesê dat die premier van Gauteng te kenne gegee het dat 6 000 nuwe polisielede aangestel sal word en dat die departement ‘n versoek sal bring dat skole tydens hul besigste tye beskerm sal word.

Tydens ‘n eNCA-onderhoud was die oorledene sy laaste woorde volgens sy suster glo aan sy ma Sondag toe hy vir haar sê hy het die beste van beide wêrelde van sy ma en pa gekry.

Tshililo het nadat sy pa oorlede is die rol van vaderfiguur in sy familie ingeneem.

FiND iT Nuus wag vir polisiekommentaar.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel