Matriekafskeidfoto’s in Checkers ‘n eerste

Deel hierdie storie / Share this story

Die 18-jarige Miné Louw wou nie die doodgewone matriekafskeidfoto’s in ‘n parkie of in ‘n tuin hê nie. Toe besluit sy op die dag van die afskeid om op die besigste tyd van die maand in Checkers te gaan foto’s neem. Hoekom nie?

Louw is vanjaar ‘n matrikulant aan die Hoërskool Overkruin in Pretoria. Haar skool se matriekafskeid het op 29 September plaasgevind.

Sy vertel sy het aanvanklik gedink aan foto’s in ‘n ou gebou, iets wat haar ma, Michele, ook gedoen het.

“Maar toe begin ek iets soek wat anders is, met kleur! Vibrant, happy, besig. So het die Checker- idee tussen al die lekkernye en vrugte begin.”

Louw en haar metgesel, Jagu Grobler, is al vir vyf jaar goeie vriende en het besluit om hulle hoërskooljare saam klaar te maak as metgeselle vir die afskeid.

Sy vertel by Checkers is hulle verras met ‘n splinternuwe winkel met ‘n sushi bar, wynkelder, vars brood en blomme. “En die cherry op die koek was die Krispy Kreme wat die twee pelle elke jaar vir mekaar op verjaardae gee,” vertel Michele.

Michele vertel die fotograwe, Abri de Bruin van Traveldoc Photography en Elle V Photography, was baie entoesiasties oor die foto’s.

“Checkers, veral Charles en Dyllon en die hele span het die winkel eksieperfeksie gekry vir die sessie. Dit was vir hulle ook ‘n eerste en uniek!”

In dié foto het Louw op die oranje vloer gelê met haar deftige rok om die perfekte foto te kry. “Mense het hier en daar gestaan en kyk en dit was soveel pret!”

Louw beplan om volgende jaar B Comm Forensiese Ouditkunde by die NWU te gaan studeer en vertel sy het reeds plek in die Kasteel-dameskoshuis.

Grobler gaan B Comm Rek studeer by Tuks.

“Matriekafskeid is nie net een van die boksies wat getick word nie, dis die einde van n reis. Om met ‘n spesiale kar te arriveer, is altyd n hoogtepunt en om te sien hoe almal moeite gedoen het om mooi te lyk, laat mens goed voel. Dis ‘n lang dag vol opwinding en emosies, maar dis alles die moeite werd.”

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel