Amoré de Beer (33) is ‘n enkelma van tweelingseuns van wie Aiden (6) op die spektrum vir outisme en Asperger-sindroom is.
Haar storie begin in middel 2019 toe haar man met kanker gediagnoseer is. Omdat hy nie ‘n mediese fonds gehad het nie, is hy deur dokters met antibiotika huis toe gestuur totdat hy by ‘n spesialis kon uitkom wat ‘n biopsie kon doen.
“Die dokter het ons een oggend gebel en gesê om hom te kom sien. Ek het geweet dit is nie goeie nuus nie. Die kanker was reeds in metastase-fase en baie versprei. Daar is by die staatshospitaal gesloer met sy chemobehandeling en elke keer was daar ‘n probleem sodat hy toe nooit met behandeling kon begin nie.”
“Hy is ‘n maand nadat hy gediagnoseer is en ‘n maand na ons seuns se derde verjaarsdag oorlede.”

Amoré se man het nie lewensversekering of polisse gehad nie en met Amoré se wêreld wat in duie gestort het met sy afsterwe, moes haar ma haar en die twee seuns by haar inneem.
“Sonder my ma en die Here weet ek nie waar ek en my kinders vandag sou wees nie.”
“Ons het ons huis, ons motor, alles verloor en was op so ‘n bitter donker plek dat ek met tye selfdoodgedagtes gehad het. Tot ek op ‘n dag gekom het waar ek besef het ek moet opstaan ter wille van ons seuntjies.”

Amoré het met tyd agtergekom Aiden is stadig om sy mylpale te behaal en het pertinent probleme met sy spraak en toiletgebruik gehad. Amoré het ‘n klein besigheid van die huis af begin en Aiden vir sielkundige terapie geneem. Omdat geen skool hom wou aanvaar omdat hy nie self ‘n badkamer kon gebruik nie, moes sy self tuis na hom kyk.
“Ons is verwys na Eden Health waar ‘n groep spesialiste, waarvan een ‘n neurologiese pediater, is. Toetse en asseserings gaan op Aiden gedoen word om die graad van sy outisme te bepaal en te kyk of die oorsaak neurologies is.”
Amoré se mediese fonds dek nie die onkostes nie.
“Die koste aan dokters en spesialiste beloop al ongeveer R10 000 en dan kom petrol, tolgeld en verblyfkostes by, aangesien dit meer as twee ure weg is van waar ons bly. As enkelouer kan ek ongelukkig nie die onkostes op my eie dra nie. My besigheid bring ook nie genoeg in om alles te kan dek nie.”
Amoré het vir Aiden ‘n BackaBuddy geloods met die hoop dat mense hule harte sal oopmaak en haar seuntjie sal ondersteun.
“Hy is so liefdevol en verdien net die beste. As enigiemand iets wil weet, is hulle meer as welkom om ‘n e-pos aan my te stuur by [email protected].”
“Ek hoop en bid dat die regte mense oor ons pad gestuur sal word om te kan help!”
https://www.backabuddy.co.za/aiden-adam
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



