Verkragter en huisrower uit op parool deur boer geskiet

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Gewapende man wat op parool uit was, is Sondagaand binne ‘n geplunderde plaashuis van ‘n bejaarde egpaar te Vlakfontein, Hendrina Mpumalanga, geskiet.

Kol. Donald Mdhluli, provinsiale polisiewoordvoerder in Mpumalanga, sê polisielede van die plaaslike polisiestasie het op ‘n skietvoorval op die plaas reageer waar hulle glo vir mnr. Joseph Vilakazi dood en met skietwonde aangetref het.

Die bejaarde egpaar wie se plaas dit is, was met aankoms van die lede reeds na die hospitaal geneem om behandeling vir skok te ontvang. Daar was vier persone op die toneel teenwoordig wat hulself as bure van die egpaar en ook boere van die omgewing geïdentifiseer het.

Na bewering was die bejaarde egpaar op ‘n uitstappie en het om 18:30 na hul huis teruggekeer. Toe hulle hul huis binnegaan, het hulle ‘n man, gewapen met ‘n mes, binne die huis gevind. Die 70-jarige boer het glo daarin geslaag om Vilakazi te skiet wat homself verder beseer het deur sy been te breek, toe hy deur ‘n venster op die boonste verdieping probeer ontsnap het.

Polisie wat besig is met die ondersoek het Vilakazi verbind aan vorige sake van verkragting en huisrooftogte, 14 huisbraak- en diefstalsake, asook aanranding met die doel om ernstig te beseer. Hy het reeds 15 jaar uitgedien en was uit op parool.

“Omstandighede rondom die noodlottige insident word ondersoek, waarna die saakdossier aan die direkteur vir openbare vervolging gestuur sal word vir besluitneming in die saak.”

Lt.genl Semakaleng Daphney Manamela, kommissaris van polisie in Mpumalanga, het haar kommer uitgespreek oor die aanvalle op ouer mense in die boeregemeenskap.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel