Onderwyser gesoek wat glo seuns in skooltoilette vasdruk

Deel hierdie storie / Share this story

Die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings in Kaapstad vra die gemeenskap se samewerking om ‘n 38-jarige onderwyser op te spoor.

Adj.off. Joseph Swartbooi, polisiewoordvoerder, sê Brent van Dam (38) het na bewering twee minderjarige seuns in die badkamer van ‘n plaaslike skool gekry. Hy het glo een van die seuns gevra om die badkamer te verlaat en die ander seun, wat in een van die badkamerhokkies was, gegryp.

Die seun wat die badkamer verlaat het, het glo teruggekom, die verdagte geskop en hulle het ontsnap.

‘n Ander minderjarige seun het na bewering ook die toilette by die skool gebruik toe iemand by die hokkie probeer inkom het. Die seun het na bewering hard probeer om die deur toe te hou en in die proses die man se gesig gesien. Hy sê hy het hom as ‘n onderwyser by die skool herken.

Die verdagte was volgens adj.off. Swartbooi nie tuis toe die polisie hom gaan soek het nie.

Enigiemand met inligting kan die ondersoekbeampte by 082 522 1083 kontak.