Suksesvolle waterredding deur Orania-span: Reddingsboot deur Klarissa-fonds gekoop

Deel hierdie storie / Share this story

Orania Veiligheidsdienste: Watervleuel is ʼn eenheid wat na afloop van die tragiese verdrinking van Klarissa Joubert in Januarie 2021 op die been gebring is. Die afgelope naweek het die verskillende lede van hierdie vrywillige operasionele groep ʼn suksesvolle waterreddingsoperasie uitgevoer.

Na Klarissa Joubert se tragiese en wyd gepubliseerde verdrinking het Orania Veiligheidsdienste (OVD) ʼn gespesialiseerde waterreddingspan op die been gebring. Orania Veiligheidsdienste is ʼn volfiliaal van Orania Dorpsraad en steun sterk op die toewyding en deelname van vrywilligers.
Behalwe vir twee voltydse veiligheidsbeamptes wat op hierdie vrywillige groep dien, is al die lede vrywilligers wat hul eie tyd en hulpbronne aan die poging wy. Die boot en alle toerusting is befonds deur die Klarissa Joubert-noodfonds wat na afloop van haar dood op die been gebring is.
Terwyl Oraniërs op Saterdag 1 Oktober in ʼn vrolike karnaval-luim was, het die beheerkamer om 16:25 ʼn noodoproep ontvang: “Man met jetski oor die keerwal. Ons kon net die jetski verder sien spoel, maar nie die man nie”.

Etienne de Lange en Theuns Wessels van Orania Veiligheidsdienste het die skipper, boot, paramedikus en lede van die groep geaktiveer en in rekordtyd die toerusting by Sandbaai in Orania gehad. Die boot is teen 16:45 te water gelaat.

Terwyl dit gebeur het, het twee vissermanne die persoon wat in die ongeluk was stroomop aan die omgekeerde Jetski sien klou. “Toe ons besef dit is ‘n man wat aan die omgedopte jetski klou, het ek so vinnig ek kon met my bootjie na hom geroei. My arms het naderhand gebrand, maar ek wou nie sien dat nog ‘n Oraniër verdrink nie!” vertel Marco Lyons, een van die vissermanne. Die man was in daardie stadium reeds ernstig beseer en hy was nie by sy volle bewussyn nie. Marco en Dean von Waldzleben het die beseerde na die wal gehelp en hom by sy bewussyn gehou. Hulle oplettendheid en vinnige optrede het ʼn reuserol in die reddingspoging gespeel.

Vandaar het die OVD-watervleuelspan hom medies behandel en met ʼn spinale bord vervoer tot by ʼn toeganklike area waar ʼn ambulans hom na Orania se mediese sentrum kon neem, waar hy kon aansterk.

Orania is ʼn gemeenskap waar Oraniërs vrywillig hulle tyd en diens tot die gemeenskap bydra.
Die span onderneem binnekort verdere opleiding wat gevorderde touwerk en waterreddingsprosedures insluit. Twee lede gaan ook ʼn internasionaal-erkende mediese traumakursus in Oktober aflê om die paramedikus beter te kan ondersteun.
Die span het ons Hemelse Vader gedank vir die sukses van die redding.

Joost Steyn, uitvoerende hoof van die Orania-beweging, het op 25 Januarie 2021 in ’n persverklaring bevestig Klarissa Joubert (19) se liggaam is in die Oranje-rivier gevind nadat sy van ’n binneband in die rivier geval en meegesleur is.

Steyn het ook alle rolspelers, insluitend Orania-veiligheidsdienste, die Suid-Afrikaanse polisie, verskeie nooddienste en die honderde vrywilligers bedank wat na haar verdwyning na Klarissa help soek het.

“In hierdie moeilike tyd vind ons krag in ons gemeenskap en in ons Hemelse Vader Jesus Christus,” het Steyn afgesluit.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel