Twee van drie premature babas na 103 dae tuis terwyl ouers bak vir inkomste

Deel hierdie storie / Share this story

Stefan en Liezel Meyer van Benoni kon Lenka (2.7 kg) en Lusché (2.2 kg), uiteindelik na 103 dae in NNICU, waar hulle vir hul lewens geveg het, huis toe neem.

“Ons was in ekstase toe ons in Desember 2021 uitvind dat ons swanger is.”

Liezel het ‘n baie moeilike swangerskap gehad het en kon weens Hyperemesis Gravidarum (‘n erge vorm van oggendnaarheid) vir vier maande glad nie eet of drink nie en het ongeveer 30 kg verloor.

Liezel het weens hoë bloeddruk, eklampsie, niere wat ophou werk het en ander organe wat besig is om in te gee ‘n diagnose van haar ginekoloog ontvang dat sy nie 24 uur het om te leef nie. Die babas moes uit of sy en hulle sou sterf.

Die drie piepklein babadogters is op 15 Junie op 26 weke en 6 dae gebore met ‘n geboortegewig van onderskeidelik 706, 713 en 827 gram. Op foto’s kan gesien word hoe klein hul teen hospitaaltoerusting vertoon.

Fotokrediet Stefan Meyer
Fotokrediet Stefan Meyer

“Direk na hulle geboorte is Liezel na die SICU en die babas na die NNICU geneem. Die volgende 48 uur was kritiek om te sien wie sou oorleef, maar ons drie dogtertjies het so hard baklei om vir die wêreld te wys dat hulle drie vegters is wat dit sou maak. Al drie het so goed gedoen. Op die 24ste Junie het die dokters ons ingelig dat hulle ‘n gaatjie in Aaniyah se hartjie gekry het en dat sy gemonitor word,” vertel Stefan.

Fotokrediet Stefan Meyer
Fotokrediet Stefan Meyer

Die ouers het die 25ste Junie die Saterdag gaan inkopies doen vir ‘n paar goedjies vir hul drie dogtertjies se kamer.

“Dit is toe ek die oproep kry wat sê ons moet hospitaal toe kom omdat hulle besig is om Aaniyah, die 706 gram baba, te resussiteer. Met ons aankoms was sy alreeds sleg gekneus as gevolg van die KPR en kon ek op die een suster se gesig sien dat dit te laat is.”

Die dokter het aanhou veg en aan hulle gesê dat Aaniyah se magie gebars het.

“Haar kondisie het verbeter en net daarna het sy vir ‘n laaste keer gecrash. Ons is gesê dat ons 20 minute met haar het, maar sy het vir twee ure aangehang terwyl ons gebid het en vir God gevra het om in ons donkerste uur by haar te wees en lewe in haar te blaas.”

“Die dokter het vir n laaste keer Aaniyah se oë oopgemaak, haar pols gevoel en vir ons gesê dat sy weg is, waarna hy haar masjiene afgesit het. Dit is die ergste hartseer wat ek en ek weet my vrou ook gevoel het in ons hele leeftyd.”

Die twee dapper ouers kon egter nie op rou oor die verlies van hul babadogter fokus nie, want hulle moes aandag gee aan Lenka en Lusché.

“Ons het haar begrafnis gehou, maar ons NNICU-reis het vir nog ongeveer 100 dae aangehou waartydens ons elke dag hospitaal toe is om tyd met ons dogters te kan spandeer.”

Stefan en Liezel is uiteindelik Maandag met die twee meisies huis toe waarna Stefan sy dankbaarheid uitspreek dat hul tuis is na alles wat hulle deur is. Intussen moes Liezel, wat met kinders met spesiale behoeftes gewerk het, reeds tydens haar swangerskap haar werk bedank.

Fotokrediet Stefan Meyer
Fotokrediet Stefan Meyer

Stefan, wat ‘n gesoute werker is in bemarking, grafiese ontwerp, fotografie en videografie, werk steeds vir homself, maar met alles wat die gesin deur is, het sy besigheid laaste in die ry gestaan en het hul hewige verliese gely. Hy is tans op soek na ‘n werk by ‘n maatskappy wat hy van die huis af kan doen om steeds by sy familie te kan wees, aangesien hul twee motors moes inruil vir een motor en Liezel nie sonder vervoer kan wees nie.

Tans bak hul brood en koekies om te oorleef en in die babas se behoeftes te voorsien. Hul mediesefondsrekening beloop tans R3 miljoen en beide die babas moet weekliks oogkundiges besoek teen ‘n bedrag van R1 800.

“Rekeninge en skuld hoop op en dit voel asof ons verdrink saam met dieselkostes omdat ons eers elke dag na die Donald Gordan-hospitaal toe moes ry en dit steeds moet doen.”

Deurentyd bedank Stefan die Here en mense vir hul gebede wat hul tot dusver staande gehou het.

Indien jy, ‘n maatskappy of organisasie in aanvraag is vir bemarking of gebakte goedere in ruil om te help met die kleingoed se mediese rekening, of selfs weet van ‘n pos waar Stefan gaan inpas, maak kontak met hulle by [email protected], [email protected] of by die volgende selfoonnommers: 073 732 1070, 065 155 3937 of 071 308 6306.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel