Inheemse Amerikaanse aktrise wat by 1973-Oscars betoog het, sterf op 75

Deel hierdie storie / Share this story

Sacheen Littlefeather, ‘n inheemse Amerikaanse aktrise en aktivis, is op die ouderdom van 75 oorlede.

Sacheen Littlefeather het in 1973 by die eerste regstreekse Oscars-seremonie opslae gemaak toe sy namens Marlon Brando die Oscar vir beste akteur vir The Godfather weier.

Die aktrise is deur Brando self gevra om die toekenning van die hand te wys. Brando het die Oscar-toekenningsaand geboikot oor die uitbeelding van inheemse Amerikaners in die filmbedryf.

Littlefeather, wat van Apache- en Yaqui-afkoms was, is deur sommige in die gehoor uitgejou en het later gesê John Wayne, bekend vir sy optredes in Western-flieks, moes in bedwang gehou word toe sy die verhoog verlaat, om te keer dat hy haar aanrand.

Die Academy het net twee weke gelede ‘n seremonie by sy LA-museum gehou ter ere van Littlefeather nadat dit haar sowat vyf dekades ná die voorval ‘n openbare verskoning aangebied het.

“Ek het daarheen gegaan, soos ‘n trotse Indiese vrou met waardigheid, met moed, met grasie en met nederigheid,” het sy by die seremonie gesê en bygevoeg : “Dit is nooit te laat vir ‘n verskoning nie, dit is nooit te laat vir vergifnis nie.”

Bronne: DW – South Africa, BBC

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel

Lees ook: Academy vra Sacheen Littlefeather om verskoning vir Oscars-drama van 1973