Die koningin van Denemarke het haar tweede seun se kinders gestroop van sommige koninklike titels .
Koningin Margrethe II het twee seuns, prins Frederik (die troonopvolger) en sy broer prins Joachim. Albei broers het vier kinders, maar van 1 Januarie 2023 af gaan Joachim se kinders nie meer prins of prinses wees nie. Hulle sal graaf of gravin van Monzepat genoem word.
Die paleis het in ‘n verklaring gesê die koningin se besluit was in ooreenstemming met skuiwe wat ander Europese koningshuise die afgelope jare gemaak het. Sy wil hê haar vier kleinkinders van prins Joachim moet “in ‘n veel groter mate hul eie lewens kan vorm sonder om beperk te word deur die spesiale oorwegings en pligte wat ‘n formele verbintenis met die koninklike huis van Denemarke as ‘n instelling behels.”
Die paleis het gesê prins Joachim was bewus van die besluit, maar hy het gesê hy is slegs vyf dae voor die koningin haar besluit aangekondig het in kennis gestel daarvan.
Alhoewel die koninklike kleinkinders se titels verander, sal hulle nie hul plekke in die volgorde van opvolging van die Deense kroon verloor nie. Hulle is tans 7de, 8ste, 9de en 10de in die ry na die troon, agter hul pa, neefs en oom.
Bronne: Euronews, Daily Express
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



