Verdagtes gearresteer vir poging tot moord, besit van plofstof en koperkabels

Deel hierdie storie / Share this story

Vier verdagtes, tussen die ouderdomme van 36 en 28, is gearresteer nadat hulle glo Vrydagoggend vir die polisie weggejaag en in ‘n oor-en-weer skietery betrokke was.

Kol. Adèle Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder van Potchefstroom, Noordwes, sê die lede het Vrydagoggend roetine-patrollie in Boitekong gery toe hulle twee verdagte Toyota Quantum-minibusse opgemerk het.

Die lede het die voertuie genader en insittendes met klapmusse gesien.

Die minibusse het na bewering weggejaag, waarna die lede gevolg het en rugsteun aangevra het.

Die Phokeng honde-eenheid en Lethabong-polisie het by die jaagtog aangesluit.

Een van die verdagte voertuie is by Mosenthal voorgekeer en van die pad afgetrek. Die insittendes het op die polise geskiet waarna die polisie teruggeskiet het.

Polisielede kon daarin slaag om twee van die verdagtes te arresteer. Die ander twee het glo die bosse ingehardloop, maar is ook aangekeer en gearresteer.

Een van die verdagtes is tydens die skietery gewond.

Tydens deursoeking is beslag gelê op die voertuig, plofstof en vermoedelik gesteelde koperkabels wat binne die voertuig gevind is.

Die verdagtes sal Maandag 26 September 2022 in die Bafokeng-landdroshof in Tlhabane verskyn op aanklagte van poging tot moord, die besit van plofstof en die besit van koperkabels.

Die verdagte wat in die hospitaal is, sal in die hof verskyn wanneer hy ontslaan is.

Fotokrediet SAPD
Fotokrediet SAPD

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel