Alwyn Burger van die Vrystaat het in ‘n ope brief sy skok uitgespreek ten opsigte van al die situasies wat rondom kinders plaasvind.
Selfmoord, verkragting, aanranding en geen respek vir eiendom is wat in skole gebeur.
Sy mening is dat die samelewewing siek is, en dat kinders maar net optree soos wat hulle ervaar.
Sy vraag aan ouers, is: “Hoe op aarde kan ouers verwag dat onderwysers hierdie tipe gedrag moet hanteer?”
En dan die teregwysing: “Jy het gekies om hierdie kinders te hê.”
“Ons sit met ‘n generasie van slapgatouers wat hulle verantwoordelikhede net wil afskuif,” sê Burger.
“JOU KIND IS NIE DIE PROBLEEM NIE, JY IS!”
Lees die brief hier:
“Ek staan geskok as ek sien wat aangaan in skole. Graad 4 seun wat selfmoord pleeg oor hy ‘n dogtertjie betas het. Graad 6- en 7-leerlinge wat ‘n onderwyser aanrand. ‘n Graad 6 meisie wat in die skool gerape is deur Graad 6-seuns. Leerlinge wat mekaar aan die keel gryp en verwurg, mekaar byt, die vieslikste name noem, geen respek het vir ‘n ander se besittings nie, wat onderwysers blatant in klasse uittart, Graad 6- en 7-leerlinge wat seksuele bewegings teenoor mekaar uitvoer….
“Ons samelewing is siek…oor ons huishoudings siek is. Kinders soek aandag, liefde en aanvaarding op die aakligste maniere en weerspieël en leef uit dit wat hulle by ouerhuise ervaar. Hoe op aarde kan ouers verwag dat onderwysers en skole hierdie tipe gedrag hanteer waar daar tot 35 kinders in ‘n klas is? En die ouers se opplossings daarvoor is pleinweg medikasie…en dit word van onderwysers verwag om hierdie medikasie in klasse toe te dien op aandrang van die ouers, net sodat die kind bietjie kan bedaar.
“Meneer en Mevrou, jou medikasie gaan nooit doen wat jy moet doen nie. Jy het gekies om hierdie kind(ers) te hê, en daarom moet jy die tyd en die plek maak om hulle in die regte weë groot te maak…julle moet die TV afskakel en om ‘n tafel begin eet, saam Bybel lees en saam bid. Julle moet tyd maak vir mekaar en begin kommunikeer met julle kinders. Julle moet vir julle kinders die absoluute veiligheid van liefde en aanvaarding gee. Jy kan nie jou moegwees, jou kwaadgeit en jou irritasies by die huis op jou kinders gaan staan en uithaal nie.
“Meneer, hoe jy jou vrou by die huis behandel en hoe julle liefde teenoor mekaar betoon en hoe julle teen mekaar optree, en hoe julle konflik in die huis hanteer, sal presies dit wees wat jou kind(ers) buite gaan uitleef in die wêreld en by die skool.
“‘n Kind wat nie by die huis daardie liefde en veiligheid en aanvaarding en aandag kry nie, sal en gaan dit by die skool soek, en gelable word as stout, ‘n probleemkind, ADHD en wie weet wat nog alles. Jou kind gaan ander boelie. Jou kind gaan geen gesag by die skool aanvaar nie. Jou kind gaan buite orde wees. Jou kind gaan ‘n probleemkind by die skool wees.
“Ons sit met ‘n generasie van slapgatouers wat hulle verantwoordelikhede net wil afskuif op ander om hulle kinders te leer, groot te maak, te dissiplineer en wat elke medikasie beskikbaar gebruik om kinders vol gifstowwe te prop oor hulle nie tyd kan maak om met hulle kinders te spandeer nie.
“JOU KIND IS NIE DIE PROBLEEM NIE, JY IS! JY HET DIE PROBLEEM VEROORSAAK. JY HET DIE “PROBLEEMKIND” GESKEP!”
“Jy kan nie verwag dat daar orde, respek en liefe en dissipline in jou huis gaan wees as julle as ouers nie God die fondasie in julle huise maak nie. Julle kan nie protesteer oor Godsdiens uit skole gevat word as julle dit nie eers self elke dag by die huis leef en toepas nie.
“Christelike beginsels, respek, dissipline en self-worth begin in jou huishouding, nie op straat, by maatjies, of by die skool nie.
“Jou kind reflekteer na buite wat binne jou huis aangaan. Dis ‘n skildery vir die publiek daarbuite van wat binne in die huis aangaan.
“Word wakker, jy wat so rustig sit en slaap en staan op uit jou “dood”. Jy sal aan God verantwoording doen oor hoe jy investeer in jou kind, hoe jy hom/haar grootmaak…want jy is net die voertuig vir hierdie kind se rit vir ongeveer 18 jaar.
“En soos ek op die stadium kyk na wat aangaan…sien ek duisende kinders wat verlate wag om opgelaai te word….en seks, dwelms, swak gedrag, bullying, wanorde en disrespek gebruik om te kyk of iemand hulle sal wil oplaai.
“DON’T BLAME THE CHILDREN, BLAME THE PARENTS!”
Stem jy saam met die inhoud van die brief?
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.