Die pa van drie seuns waarvan die jongste twee jaar oud is, is skuldig bevind aan moord en poging tot moord na hy sy seuns vergiftig het.
Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) sê in ‘n verklaring die pa van Soshanguve is ook op aanklagte van verkragting en die oortreding van ‘n beskermingsbevel skuldig bevind.
Die pa was sedert 2004 en 2018 met die ma van die drie seuns in ‘n verhouding.
Vroeg in 2019 het sy ‘n interdik teen hom bekom, maar hy het dié bevel oortree, by haar huis ingebreek en haar verkrag.
In Augustus daardie jaar het hy sy drie seuns by hul ma gaan haal om by hulle ouma te kuier. Op pad daarheen het hy die drie seuns, van twee, agt en 11 jaar oud, vergiftigde Weense worsies gegee.
Toe die 11-jarige seun weier om die vergiftigde kos te eet, het sy pa hom aangerand en hom forseer om te eet.
Die seuns se ma het na die huis gejaag na die pa haar gebel het en gesê het hy gaan hulle kinder vermoor. Sy het haar tweejarige se lewelose liggaam op ‘n bed in die huis gekry.
Die pa is dieselfde dag in hegtenis geneem, by ‘n treinstasie waar hy sy eie lewe wou neem, sê die NVG.
Die saak is tot 7 – 11 November uitgestel vir vonnisoplegging.



