Onderwysdept. bekommerd na onderhoof glo met skêr by skool gesteek is

Deel hierdie storie / Share this story

Die Gautengse departement van onderwys (GDO) het sy kommer uitgespreek nadat onrus onder leiding van leerders op Donderdag 15 September 2022 in Alexandra, Johannesburg, uitgebreek het. Dit volg nadat die onderhoof van Hoërskool Realogile op Woensdag 14 September 2022 na bewering deur ’n leerder met ’n skêr gesteek is.

“Berigte beweer dat leerders van Hoërskool Realogile Donderdagoggend amok in Alexandra veroorsaak het en na vyf ander hoërskole in die omgewing opgeruk het. Die leerders het toe die ander skole se leerders uit hul klaskamers verwyder en hulle versoek om by hul optog aan te sluit. Dit alles in solidariteit met hul onderhoof, wat na bewering deur ’n leerder met ’n skêr op die skoolterrein gesteek is. Meer nog, leerders het ook aangedring op veiligheid by hul skole,” sê Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys.

Die onderhoof van Hoërskool Realogile is na bewering op Woensdag 14 September 2022 deur ’n graad 11-leerder by die skool met ’n skêr gesteek. Berigte lui dat die leerder op die dag in die kantoor ingeroep is vir wangedrag wat aangemeld is. Hy het na bewering die kantoor uitgestorm en met twee skêre teruggekeer, waarmee hy beide die skoolhoof en onderhoof begin jaag en aangerand het.

Die onderhoof het glo beserings opgedoen en is na ’n plaaslike hospitaal gehaas. Sy toestand het verbeter en hy is intussen ontslaan. Hierdie voorval het egter die skoolgemeenskap van Hoërskool Realogile kwaad gemaak, en daar word vermoed dat dit die dryfveer agter gister se onrus was.

Die polisie het op die toneel van die onrus opgedaag en daarin geslaag om orde te herstel en leerlinge huis toe te stuur. “Dit is bemoedigend dat matrikulante, wat toe ’n voorlopige eksamen geskryf het, nie deur hierdie onrus geraak is nie en hul eksamen suksesvol afgelê het,” voeg Mabona by.

“Ons neem met kommer kennis van die ongelukkige ontwrigting van onderwys, meer nog aangesien ons graad 12-leerders tans besig is om hul voorlopige eksamens te skryf. As die departement werk ons ​​onverpoosd daaraan om te verseker dat leerders veilig in al ons skole is. Dit is inderdaad kommerwekkend dat sommige leerders tydens die genoemde onrus selfs vuurwapens rondgeswaai het. Ons doen ’n beroep op alle leerders om hulle van wangedrag by ons skole te weerhou, en die toepaslike kanale te gebruik om belangrike sake te opper,” het Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, gesê.