‘n Maklike resep vir aarbeimousse, perfek vir die warmer dae.
Genoeg vir: 6-8
Bereidingstyd: 25 minute, plus yskastyd
Bestanddele:
10 ml gelatien
350 g aarbeie, stingels en blare verwyder en gekap, plus ekstra om voor te sit
1 blik ingedampte melk, oornag verkoel
5 ml vanieljegeursel
100-150 ml strooisuiker, na gelang van hoe soet die aarbeie is
Metode:
Sprinkel die gelatien oor 15 ml water en laat dit staan tot dit sponserig is. Smelt die gelatien in die mikrogolfoond (moenie nie kook nie) en laat dit effens afkoel.
Verpulp die aarbeie in ’n voedselverwerker en druk dit deur ’n sif om van die meeste saadjies ontslae te raak. Roer van die aarbeie by die gelatien en roer dan die gelatienmengsel by die orige aarbeie.
Gooi die ingedampte melk en vanieljegeursel in ’n groot mengbak en klits dit met ’n elektriese klitser tot skuimerig.
Voeg die suiker bietjies-bietjies by terwyl jy dit die heeltyd klits.
Indien die aarbeie nie baie soet is nie, kan jy nog ’n bietjie suiker byvoeg.
Sodra die melkmengsel lig en donsig is, kan jy die aarbei-en-gelatienmengsel byklits.
Skep dit in individuele bakkies of koppies, indien verkies, en sit dit vir ’n uur in die yskas voor jy dit met ekstra aarbeie voorsit.
Bron: Idees / Kos en Onthaal
Plasing; Henriette Wessels / WATERTAND RESEPTE VIR OUD EN JONK



