Tertia van der Walt van Blue Angels is nie onbekend nie.
Blue Angels is as gevolg van haar liefde vir die polisie gebore. Sy het al menige lid gehelp om probleme uit te sorteer. Tans staan sy polisieslagofferbemagtigingsentrums by met benodighede vir slagoffers.
Van die Kaapse Vlaktes waar sy reeds vir ongeveer nege jaar dien se pyn en nood kan jy haar niks vertel nie.
“Ek bly op Saldanha, Weskus. Meer as 20 jaar terug het ek al geweet ek gaan lewens verander.”
“Blue Angels is gebore uit my bediening onder polisiemanne en deur hulle oë het ek besef dat PTSD en depressie onder lede gebeur as gevolg van misdade, insluitend huislike geweld, verkragting, ens., maar ook gemeenskappe wat swaar kry, honger ly en sukkel.”
Sy maak boeke bymekaar vir behoeftiges en help om biblioteke te open by skole waar skoolfonds nie betaal word nie.
Sy maak kos en lewer dit af, veral aan mense wat nie elektrisiteit het nie of aan onskuldige kinders en bejaardes waar dwelms veroorsaak dat daar nie kos is nie. Andersins versprei sy kruideniersware wanneer sy dit beskikbaar het.
“Tans doen ek streng huisbesoeke voor ek help.”
“Toe die pandemie ons land tot stilstand ruk, het die Here voorsien sodat ons 1 000 mense per week kon kosgee. Ons het geen permit nie en is nie ‘n geregistreerde WGO nie, maar mense kom sover as van die Kaap, Strand en oral om donasies te gee. Ons afdak was altyd vol, wat ons uitdeel, was hervul.”
Sy voorsien selfs aan sopkombuise wanneer sy genoeg donasies het.
Sy hou verjaarsdag-en Kerspartytjies vir oud en jonk. En bederf mense wat seer ervaar, bejaardes, eensames, gestremdes en siekes met huisbesoeke, ‘n liefdeswerk wat nou meeste van haar tyd in beslag neem.
“Sowat vier jaar gelede het die Here my geroep om voltyds my gemeenskap te dien.”
“Ek het summier bedank en saam met dit my inkomste verloor.”
“Ek het afgradeer. My motor teruggegee vir die bank, minder gemaak, weggegee en eenvoudiger begin leef. Vir my en my gesin bestaan daar geen luukshede nie.”
Tertia, wat toe al die tyd moes stap, se man het na die inperking oë toegeknyp en vir haar ‘n klein motor gekoop om haar gemeenskap te dien.
“Ek vertrou, bid en vra vir hulp wat ek nodig het. Donasies van kos, klere, meubels, skoolklere, speelgoed, lekkergoed, skoolbenodighede en baba-artikels word eenvoudig dadelik verpak en versprei waar nood geïdentifiseer is.”
Sy werk om vertroue onder die jeug te wen deur met kinders te speel en gesprekke met tieners te voer. Sy leer hulle stokperdjies aan en hoe om te kook om vir hulself te kan sorg.
“‘n Kleingeldprojek help om kleingoed te leer hoe om met geld te werk, om positiewe gedrag te bevorder en vir motivering, maar ook om hulle vertroue te wen sodat hulle met my sal praat oor mishandeling of verwaarlosing.”
Raad het sy volop.
Nood en projekte daaruit gebore, groei jaarliks. Haar diens is gratis en sy verkoop niks.
“Ek dek die Weskus van Saldanha tot by Langebaan en Velddrif. Ek het ook plekke soos Strand in die Kaap, en sommige ander areas waar ek hulp aanbied.”
‘n Kersprojek met geskenke en ‘n ete vir honderde lê nog hierdie jaar voor. Al moet sy soms net luister en troos, is dit vir haar genoeg.
“Die is nie ‘n werk nie. Dis ‘n passie, my bediening, my hartklop, my asem.”
Tertia van der Walt kan gekontak word by 084 822 2345.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



