Aartappel-omelet met biltong

Deel hierdie storie / Share this story

Bederf môreoggend jou huisgesin met heerlike aartappel-omelette met biltong.

Voorbereityd 10 minute
Gaarmaaktyd 20 minute

Dié tradisionele Spaanse omelet is maklik om in ’n pan oor die
vuur te maak. Jy kan dit ook in dik skywe sny en inpak vir padkos.

JY BENODIG:
3 e botter
1 ui, fyngekap
1 knoffelhuisie, fyngekap
3 hande vol sagte biltong, dun gesny
olyfolie
4-6 groot aartappels, gekook en in dun skywe gesny
8 eiers, geklits
1 e growwe mosterd
sout en swartpeper na smaak

SO MAAK JY: 
Verhit die botter in ’n pan oor die kole en braai die uie en knoffel  stadig totdat dit sag is, maar nie bruin nie.

Skep dit uit die pan en meng dit met die helfte van die biltong.

Gooi ’n bietjie olyfolie in dieselfde pan en verhit tot matig warm.

Bedek die bodem van die pan  met ’n laag van die aartappelskywe en skep lepels van die uie-en-biltongmengsel bo-oor. Herhaal die lae totdat die aartappels op is.

Klits die eiers en mosterd saam, gooi sout en swartpeper na smaak by, en giet dit oor die aartappels.

Gebruik ’n houtlepel en druk deurentyd die omelet weg van die kant af. Laat die omelet gaar word.

Gebruik ’n eierspaan en keer die omelet uit in ’n bord met die rou kant na onder.

Gooi ’n bietjie olie in die pan en glip die omelet met die rou kant na onder terug in die pan. Braai dit vir nog 5 minute.

Keer die omelet uit en sny dit in skywe. Sprinkel die res van die biltong oor.

Bron: Weg

Plasing: Henriette Wessels / WATERTAND RESEPTE VIR OUD EN JONK 06/06/2013