Ouer lesers sal nog onthou hoe ‘n groot gebeurtenis die Britse koningsgesin se drie-maande-lange besoek in 1947 aan die Unie van Suid-Afrika was.
Hulle het met die skip H.M.S. Vanguard in die Kaapse hawe aangekom en daarvandaan met die Wit Trein vir 4 000 destydse myle (6437 km) deur die land getoer.
Oral langs die pad het hordes mense hulle ingewag en toegejuig. Veral die twee mooi, jong prinsesse, Elizabeth en Margaret, het die verbeelding gaande gehad.
Vir diegene met ‘n skerp waarnemingsvermoë was dit duidelik dat prinses Margaret (toe 16) en Peter Townsend (15 jaar haar senior), ‘n lid van die Britse lugmag wat saamgekom het, aangetrokke was tot mekaar. Townsend was groepkaptein en het uitsluitlik saamgekom om die jong prinses op te pas.
‘n Foto wat van hulle geneem is toe die koninklike geselskap die Groot Gat in Kimberley besoek het, was van die eerstes waarop hulle saam verskyn het. Hulle het gereeld gaan perdry in Suid-Afrika en het baie tyd in mekaar se geselskap deurgebring.
“Ons het elke oggend in daardie wonderlike land in heerlike weer gaan perdry. Dis toe dat ek werklik verlief op hom geraak het,” het sy later gesê, berig Mail Online.
Peter, wat 16 jaar ouer as Margaret was, was egter getroud. Hy is ‘n paar jaar later geskei toe ‘n buite-egtelike verhouding van sy vrou op die lappe gekom het. Tog kon Margaret nie met die liefde van haar lewe trou nie. ‘n Geskeide kon nie weer in die Kerk van Engeland, waarvan koningin Elizabeth die hoof was, trou terwyl sy of haar eks nog gelewe het nie. Die koningin was waarskynlik onder druk van haar kerklike amp om die verhouding af te keur.
Sy en haar suster was baie na aan mekaar en op Margaret se begrafnis het die koningin openlik gehuil, een van die min kere dat sy in die openbaar sulke emosie gewys het.
Margaret moes afsien van haar geliefde Peter en is later met Antony Armstrong-Jones, ‘n fotograaf en ‘n filmmaker, getroud. Die prinses se hartseer word in die Netflix-reeks, The Crown, uitgebeeld.
Bronne: Express Mail Online People
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel. Adverteer by FiND iT.



