Koningin Elizabeth is Donderdag in die ouderdom van 96 oorlede.
Haar gesondheid het agteruitgegaan na die dood van prins Philip in April verlede jaar. Vanaf Oktober 2021 het die koningin probleme begin ondervind met haar beweeglikheid en sy het met ‘n kierie geloop.

Koningin Elizabeth is op 21 April 1926 in Londen gebore. Vier jaar later is haar sussie, prinses Margaret, gebore. Haar pa, koning George VI, is in 1936 gekroon na sy broer, koning Edward VIII, uitgetree het.
Koningin Elizabeth is op 2 Junie 1953 as 25-jarige gekroon na haar pa, koning George VI, skielik gesterf het. Sy het die langste as monarg geheers in die Britse geskiedenis, en het op 9 September 2015 haar oumagrootjie se rekord vir die langsdienende monarg oortref.
Elizabeth Alexandra Mary is in 1947 met Philip Mountbatten, voormalige prins van Griekeland en Denemarke, getroud. Hulle was met sy dood in 2021 vir 73 jaar getroud. Vier kinders – Charles, Anne, Andrew en Edward – is uit die huwelik gebore.
Prins Charles is in 1969 as koningin Elizabeth se troonopvolger geïdentifiseer na hy die titel van prins van Wallis gekry het.
10 dinge wat jy dalk nie van koningin Elizabeth geweet het nie
Die bekende wasmuseum Madame Tussauds het oor die jare heen ‘n totaal van 22 wasbeelde van die koningin gemaak.
Hoewel koningin Elizabeth in April gebore is, word haar verjaardag in Junie gevier.
Tydens Apollo 11 se maanlanding in 1969 het Elizabeth ’n boodskap na die ruimtevaarders gestuur. Dié boodskap is op mikrofilm vasgelê en in ’n kapsule op die maan begrawe.
Die koningin het nog altyd ‘n liefde vir corgi’s gehad. Tydens haar bewind het sy meer as 30 corgi’s as troeteldiere gehad. Dié tradisie het begin met haar eerste hond, Susan, wat sy as ’n geskenk op haar agtiende verjaardag ontvang het.
Die koningin het meer as 2 500 trougeskenke vir haar troue met prins Philip ontvang.
Sy was die eerste monarg wat op televisie gekroon is.
Sy was die eerste vroulike lid van die koninklike gesin wat ‘n voltydse lid van die Britse weermag was.
Die rede waarom koningin Elizabeth altyd ‘n klein handsakkie by haar gehad het, is omdat sy dié handsakkie as teken gebruik het vir wanneer sy wou huis toe gaan. Wanneer sy haar handsak van haar linkerhand na haar regterhand verskuif het, het haar wagte geweet dis tyd om te groet.
Koningin Elizabeth het in haar jare op die troon 12 Amerikaanse presidente persoonlik ontmoet.
Sy was die enigste mens in Londen wat toegelaat is om sonder ‘n bestuurslisensie te bestuur. Sy het ook nie ‘n identiteitsdokument besit nie.



