Lt. kol. Mavela Masondo, provinsiale polisiewoordvoerder van Gauteng het in antwoord op ‘n navraag van FiND iT Nuus gesê ‘n saak van moord word ondersoek nadat ‘n man Saterdagoggend vroeg in Parktown geskiet is.
Na bewering het die man in sy motor by Loftus-stadion in Sunnyside, Tshwane uitgery toe daar op hom en sy vrou geskiet is.
Die polisie is deur ‘n anonieme oproep van die skietvoorval verwittig. Met hul aankoms op die toneel het hulle ‘n Volkswagen Golf 8 met koeëlgate gekry waar dit teen ‘n hek en muur gebots het.
Die venster aan die bestuurderskant was stukkend geslaan.
Volgens die voorlopige ondersoek blyk dit asof ‘n groep verdagtes op die motor geskiet het.
Die man wat geskiet is, is na ‘n mediese fasiliteit geneem waar hy aan sy wonde beswyk het.
Sy vrou het ongedeerd van die voorval afgekom.
FiND iT Nuus het die volgende inligting saam met ‘n navraag met lt. kol. Masondo gedeel:.
(Beide sosialemediastukke is vertaal.)
Everson Luhanga, Beast of News het die volgende op Twitter gedeel:
“Motorvoertuig-kaper en roof kingpin Prince Mahlangu is in Sunnyside Pretoria doodgeskiet. Ook bekend as Mongol, was Prince na bewering deel van ‘n sindikaat wat 4 x 4-bakkies kaap. Daar word ook beweer dat hy in Februarie ‘n G4S-sekuriteitswag geskiet en vermoor het by Mnandi SPAR in Centurion.”
“Daar word beweer dat Prince saam met sy vrou gery het toe hy geskiet is. Gelukkig het sy vrou die brutale aanval oorleef.”
Flying News het dieselfde op hul Facebook-blad geplaas. Hulle het egter bygevoeg dat “Mongol” deur ‘n vedagte wat ‘n wit VW Polo bestuur het, geskiet is.
“Na bewering was hy in Februarie 2022 deel van ‘n groep kriminele wat ‘n G4S sekuriteitswag by Mnandi SPAR, Tulipstraat, Centurion vermoor het. Daar word beweer dat die sekurtitietsbeampte geld in ‘n vragmotor gelaai het toe hy met ‘n R5-geweer geskiet is.”
“Gedurende die SPAR-roof is twee verdagtes op kringtelevisiekameras afgeneem met kenmerkende klere. Die verdagtes kon met die geldboks wegkom, maar was nie in staat om toegang tot die geld te verkry nie, as gevolg van tegnologie wat op G4S-toestelle aangebring is, wat die geld onbruikbaar maak.”
Lees die volledige verklaring wat FiND iT Nuus van lt.kol. Mavela Masondo ontvang het nadat bogenoemde navraag aan hom verskaf is, hier:
Mediaverklaring van die kantoor van die provinsiale polisiekommissaris in Gauteng.
Woensdag, 07 September 2022
DIE POLISIE HET ‘N SAAK VAN MOORD GEOPEN MAAK NADAT ‘N MAN IN TSHWANE PARKTOWN DOODGESKIET IS
“Die polisie het ‘n saak van moord geopen en soek na verdagtes nadat ‘n man in die vroeë oggendure van Saterdag, 04 September 2022 geskiet is terwyl hy sy motor by ‘n uitgang van die stadion in Sunnyside, Tshwane uitbestuur het.
Die polisie is anoniem ingelig oor ‘n skietery wat by een van die hekke van Loftus-stadion plaasgevind het.
Met hul aankoms het die polisie ‘n VW Golf 8 gevind wat teen die hek en muur gebots het. Die motor het koeëlgate gehad en die venster aan die bestuurder se kant was stukkend geslaan.
Voorlopige ondersoek het aan die lig gebring dat ‘n onbevestigde aantal verdagtes op die bestuurder geskiet het. Hy is na die plaaslike mediese sorgsentrum geneem waar hy met sy aankoms dood verklaar is. Die vroulike passasier het ongedeerd daarvan afgekom.
Die motief vir die moord kan nie in dié stadium bevestig word nie.
Die polisie doen ‘n beroep op enigiemand wat dalk inligting het wat kan help met die ondersoek of kan help met die aankeer van verdagtes om asseblief die naaste polisiestasie of misdaadstasie te skakel by 08600 10111. Inligting kan ook anoniem deur my SAPD App gegee word wat afgelaai kan word vanaf enige slimfoon.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



