Groot brand op Keimoes geblus

Deel hierdie storie / Share this story

AfriForum se Keimoes-tak en Grootoog-buurtwag het op 31 Augustus ’n reuse brand op Keimoes langs die lyndraad in Hoofstraat geblus.

Die Grootoog-buurtwag se kantoor het omstreeks 12:14 ’n benoude oproep ontvang van ’n AfriForum-lid, Marietjie van Wyk, oor ’n groot brand wat in die rigting van hul huis beweeg het. Sy bly in ’n houthuis wat langs die lyndraad geleë is.

Drie lede van die buurtwag het onmiddellik op die oproep gereageer en hulle na die toneel gehaas. Een van dié lede moes die verkeer reguleer weens digte rookwolke wat motoriste se sig belemmer het. Die ander twee lede het dadelik oor die lyndraad van die AfriForum-lid se erf gespring en begin om die vuur te blus. Die plaaslike brandweer en gemeenskapslede het ook gehelp om die brand te blus. Die vlamme het in ’n stadium oor die kanaal gespring en in ’n wingerd begin brand, maar die brandslaners kon daarin slaag om die vuur te blus voordat enige skade aan die woonhuise en ander eiendom aangerig is.

“Die Keimoes-tak doen uitstekende werk in die gemeenskap. Dit is wonderlik om te sien watter groot verskil hulle maak,” sê Werner Strauss, distrikskoördineerder vir die Kalahari.

“Meisie Pool, voorsitter van AfriForum se Keimoes-tak, is geweldig trots op die buurtwag en die mans wat ingespring het om te help om die brand betyds te blus, asook op die brandweer wat kom help het.”

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel