FiND iT Nuus het ‘n onderhoud gevoer met ‘n bejaarde egpaar van Pretoria-Noord wat versoek om anoniem te bly. Hulle is bang dat Steve Biko- akademiese hospitaal hulle nie meer sal help indien hulle name bekend is nie.
Die egpaar is volgens hulle gelukkig genoeg om pasiënte te wees by dié akademiese hospitaal met al die professore en spesialiste.
Maar probleme steek al hoe meer kop uit.
As ‘n weerlose bejaarde man van oor die 80 jaar oud is mnr. D en sy vrou genoodsaak om reeds 02:00 in die oggend, in enige weersomstandighede, hul huis te verlaat om betyds te wees vir ‘n parkering binne Steve Biko- akademiese hospitaal se parkeerarea. Dit gebeur meer gereeld dat hulle wel buite moet parkeer waar daar geen straatligte is nie en hulle dan in die donker waar hulle kan val ‘n ent teen ‘n opdraande moet stap om by die hekke in te gaan en in ‘n ry te gaan wag om gehelp te word.
“Ons is nie meer vandag se kinders nie, en die bene is nie meer so sterk nie. Indien ons nie teen 02:00 die oggend by die huis ry nie, gaan ons die hele dag daar moet bly om gehelp te word. Dit is nie gesond vir ons nie, aangesien ons op sekere tye moet eet en medisyne drink. As ons so vroeg is, het ons darem ook sitplek. Dit het al gebeur dat mense in rye by die hekke en om die blok straat-af staan om gehelp te word. Partykeer word pasiënte met busse afgelaai.”
“Die probleem het begin met mediese studente se voertuie wat nou die parkeerarea vol staan, en dan moet ons hoop daar is ‘n parkeerplek binne, of ons stop buite. My oë is nie goed nie en ek kan nie onderskei wat op die grond aangaan waar ek moet loop nie. Ek loop met ‘n kierie en ek ondersteun my vrou en moet nog kyk dat ons veilig is.”
“Die mediese studente is nog jonk en fiks en kan teen die heuwel in die donker sonder hulp loop. Verbeel jou hoe koud dit vir ons is om soos ander in daardie rye te sit in koue weerstoestande. Wanneer ons motor naby is, kan ons nog beurte maak om vir ‘n bietjie hitte binne-in hom te gaan sit voordat ons die gebou binnegaan.”
“Ons weet daar is duisende soos ons en dat ons afsprake ver uitmekaar is en dat ‘n dringende siekte baie keer maande tot jare kan vat voordat ons gehelp kan word, maar ons is steeds dankbaar. Al het ‘n wit vrouedokter my op Kersoggend verlede jaar gesê ek moet huis toe gaan omdat die hospitaal nie mense bo 80 opneem nie, terwyl sy my seermaak en ‘n drup uit my arm ruk terwyl ek longontsteking het en buite sit.”
“Ek het maar huis toe gegaan en ten duurste medisyne probeer kry om my te help, met geld wat ek nie het nie.”
“Partykeer is daar oulike studentedokters wat nog respek wys en ‘oom’ sê, vriendelik is en regtig luister en probeer help. Maar ander kere is nie lekker nie. Ek dra oorstukke en kan partykeer nie altyd hoor wat hulle sê nie. ‘n Rukkie terug snou ‘n dokter my toe: ‘Can’t you see I am busy writing?’ terwyl hy my voorskrif uitskryf en ek hom probeer sê watter medisyne teen mekaar werk en ek nie moet kry nie. En dan skryf hy dit steeds voor omdat ek nie mag praat nie. Dan bring ek dit maar weer terug en hoop vir ‘n nuwe regte voorskrif.”
Al wat hierdie bejaardes, wat namens almal van hul ouderdom praat, vra, is om veilig te voel en binne te parkeer indien dit gedoen kan word. Hulle vra ook respek en dat daar na hulle geluister sal word, wat die personeel op die uiteinde tyd sal spaar.
“Ja, ons weet hulle is baie besig, maar kom almal dan na een hospitaal toe?” vra mnr. D bekommerd.
FiND iT Nuus het gister Lovey Mogapi, Steve Biko- akademiese hospitaal se kommunikasiebestuurder aangaande die aangeleentheid gekontak. Sy het vandag gesê sy sal nog terugkeer met kommentaar.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



