Dr. Ilunga Kalasa, die 37-jarige “dokter” van Kimberley wat tereg staan op beweerde klagtes van verkragting en seksuele aanranding, is volgens Lebogang Majaha, die woordvoerder vir die departement van gesondheid in die Noord-Kaap, nie in die provinsie geregistreer nie.
Mojafelo Senokoatsane, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Noord-Kaap, sê hy is afkomstig uit die Republiek van die Kongo. Hy het Suid-Afrika glo met ‘n besoekersvisum binnegekom en is nie by die SA Raad vir Gesondheidsberoepe (HPCSA) geregistreer nie.
Intussen is ‘n petisie begin om die beweerde beskuldigde se borgtogaansoek in die 17-jarige se saak teen te staan.
FiND iT Nuus het op 23 Augustus berig die “dokter” het na bewering ‘n 17-jarige dogter op 15 Augustus tydens konsultasie in sy spreekkamer verkrag. Die saak kom weer op 2 September 2022 vir die aanhoor van sy borgaansoek voor.
Kalasa het toe reeds in die hof verskyn op ‘n ander klagte, waarvolgens beweer word dat hy ‘n 25-jarige pasiënt op 20 April 2022 tydens ‘n mediese ondersoek seksueel aangerand het. Hierdie saak sal ook op 2 September 2022 in die hof verskyn.
SABC News Northern Cape het op hul Facebook-blad gesê die ondersoekbeampte van die 17-jarige se saak het in die hof getuig dat borg nie toegestaan moet word nie, omdat die beskuldige ‘n vlugrisiko is. Die plasing berig verder die ondersoekbeampte het bevestig Kalasa is nie by die SA Raad vir Gesondheidsberoepe (HPCSA) geregistreer nie en is ‘n Kongolese burger. Sy getuienis het ook aan die lig gebring dat die beweerde “dokter” onwettig in die land is en dat sy besoekersvisum reeds in September 2018 verstryk het.
Tydens hofverrigtinge is gehoor dat Kalasa in 2021 ‘n soortgelyke saak teen hom gehad het na hy na bewering ook ‘n 17-jarige verkrag het, maar dié saak teen hom is teruggetrek.
Kalasa eis volgens die plasing om ‘n “mediese assistent” te wees.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



