Die polisie op Jouberton het Woensdag ses verdagtes tussen die ouderdomme van 17 en 62 in hegtenis geneem vir hulle vermeende betrokkenheid by die moord op ‘n 40-jarige man.
Lt.kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder, sê lede van die gemeenskap op Jouberton het die 40-jarige man daarvan beskuldig dat hy ‘n negejarige meisie na sy huis in die area ontvoer en haar verkrag het. Die meisie is op 9 Augustus as vermis aangemeld en op 10 Augustus het die gemeenskap na die man begin soek.
Volgens lt.kol. Funani het lede van die gemeenskap toe die 40-jarige man gekry en hom met klippe, sambokke en ander voorwerpe aangerand. Die polisie is na die toneel ontbied. Die 40-jarige man is na die hospitaal geneem waar hy later oorlede is.
Die polisie het intussen met ‘n ondersoek begin om die betrokkenes vas te trek. Die ondersoek het tot die inhegtenisneming van die verdagtes gelei.
Drie verdagtes is verlede Vrydag in hegtenis geneem en die ander ses Woensdag.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



