Anton Goosen se musiek het oor die jare heen sinoniem geraak met die Afrikaanse kultuur. Ter viering van sy suksesvolle musiekloopbaan en erfenis het die Liedjieboer met Vellies Boutique hande gevat om sy eie, eksklusiewe Vellies-handelsmerk, Jantjie Vellies, te begin.
Goosen, wat sedert die 1980’s Vellies op die verhoog dra, is nog altyd baie lief vir die gemaklike skoen en het selfs ‘n skildery uit die 1980’s deur Herman Spies van ‘n paar wat hy in Karasburg-handelshuis aangeskaf het. Hy het dit ook gebruik vir sy derde album, Liedjieboer.
Hierdie skoene was van koedoeleer gemaak, of soos hy sê: “Dit was ‘n koedoe voor dit ‘n skoen was”, en het baie aandag getrek terwyl hy op toer was, want die veters het gebreek. Hy moes dit met wit elektriese kabels vervang omdat hy niks anders kon kry nie.
Konsertgangers het die snaakse veters so geniet en dit het deel van sy konserte begin uitmaak. Goosen het gegrap en gesê dis ekstra spesiaal omdat jy die kabels kan inprop om met die ritme van die musiek te konnekteer.
Vonk Musiek se Kobie Koen beskryf Jantjie Vellies as moderne vellies wat volgens ou, nostalgiese vibes ontwerp is.
Die naam van die skoen is geïnspireer deur Goosen se treffer, Jantjie , wat in 1976 deur Sonja Herholdt opgeneem en bekendgemaak is.
“Jantjie het ‘n groot impak op my lewe en loopbaan gehad. Hy het vir ons in Kroonstad gewerk en my geleer rook, ‘n koei melk en kitaar speel, en sy vrou was Katryntjie. Sy het die mooiste blommerangskikkings gedoen,” vertel Anton oor hoekom hulle op hierdie spesifieke naam besluit het.
’n Katryntjie-vellie is ook in die pyplyn vir die nabye toekoms. Hulle beplan ook om die Liedjieboer-reeks nog meer oor die volgende paar maande uit te brei.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



