ML Spies, gewese hoof van Oranje-meisieskool, is Donderdagmiddag in die ouderdom van 106 oorlede. Haar gesondheid het die laaste ruk verswak, skryf die skool op sy Facebook-blad.
Margaretha Lategan was die enigste oorlewende oud-hoof van die bekende meisieskool in Bloemfontein en was in ’n versorgingsoord in die Strand woonagtig. Dit was Donderdag presies ’n jaar nadat Oranje nóg ’n geliefde oud-hoof, me. Mariehetta Matthee, op ‘n gedenkdiens by die skool gegroet het.
Spies het die skool van 1962-1982 gelei en was altesaam 42 jaar lank ’n onderwyser by Oranje.
Die skool skryf sy het in 1941 as boekhou-onnie begin en het in haar tyd as skoolhoof steeds die vakke Duits, aardrykskunde, geskiedenis en drama onderrig.
“Sy het trouens drama as vak by Oranje begin, die eerste en vir lank die enigste skool in die land om dit as matriekvak aan te bied. Spies het ook die matriekdrag ingestel en dis in haar tyd dat nuwelinge vir die eerste twee weke met hul vorige skooldrag skool toe begin kom het, voordat hulle ingelyf word as Oranjeniete en die pampoenrok begin dra.
“Spies het nooit haar bande met die skool verbreek nie; die skool ook nie met haar nie. So het die skool se sanggroep die afgelope naweek vir haar gaan sing toe hulle in Stellenbosch vir die interskole teen Bloemhof was.
Anne-Marie Klink, skoolhoof, sê Spies se nalatenskap sal vir altyd onthou word.
“Dis met baie groot hartseer dat ons afskeid van ’n groot legende van Oranje neem. Sy het in soveel oud-Oranjes se lewe baie diep voetspore getrap – voetspore wat ons altyd sal navolg. Die meetsnoere het vir haar in lieflike plekke geval. Dankie, me. Spies.”
Spies was lief vir die uitdrukking “Blom waar jy geplant is”.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



