“AfriForum gaan dringend hul regspan nader om die aanteken van appèl teen hierdie uitspraak te bespreek.”
Lees AfriForum se volledige verklaring hier:
AFRIFORUM APPELLEER MALEMA EN EFF “KILL THE BOER”-SAAK UITSPRAAK
DeurAfriForum25/08/2022
AfriForum gaan appèl aanteken teen die uitspraak in die haatspraaksaak van “Kill the boer”. Die gelykheidshof het vandag verklaar dat die dreunsang “Kill the boer” nie haatspraak is nie.
Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, sê dat “hierdie uitspraak ’n baie gevaarlike presedent skep. Die steurende boodskap wat met hierdie uitspraak gestuur word, is dat die aanmoediging van die gruwelike moord van ’n sekere groep gebaseer op hul identiteit aanvaarbaar is en geen gevolge dra nie.”
“AfriForum werk konstant met die slagoffers van plaasaanvalle, asook die familie van vermoordes in hierdie grusame misdade. Ons begryp die pyn en trauma wat hierdie slagoffers en oorlewendes mee moet saamleef. Ons is dus diep teleurgesteld met vandag se uitspraak. Daar is geen plek in die samelewing vir liedere wat die moord van mense gebaseer op hul identiteit aanmoedig nie,” voeg Roets by.
“Vandag se uitspraak het bewys hoe die politieke bestel in Suid-Afrika besig is om te radikaliseer, veral teen minderhede. ’n Politieke bestel waar die aanhitsing en romantisering van geweld teen minderhede deur die regbank goedgekeur word, is nie ’n vrye, demokratiese bestel nie, maar ’n onderdrukkende bestel. Hierdie saak bevestig weereens dat AfriForum nou sy aandag daarop moet vestig om ons veiligheidstrukture en sekuriteitsopleiding moet versterk en intensifiseer.”
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



