‘n Luislang van 40 kg is volgens dr. Nada de Villiers van Blouberg-dierekliniek op 10 Augustus 2022 op Louis Trichardt, Limpopo gered.
“Ons plaaslike slangvangers, Jan Slang en Frik Venter, het ‘n anonieme oproep ontvang dat ‘n man die slang in sy besit het. Hulle het ondersoek gaan instel saam met ‘n lid van die SAPD. Dit was in Madombidza, ‘n nedersetting net buite Louis Trichardt.”
Sy sê voorts hulle het die luislang in ‘n kruiwa, wat met ‘n sinkplaat bedek was, gevind.
“Haar bek was met bloudraad toegedraai, deur haar vleis.”
“Sy is na ons praktyk gebring waarna ons die draad losgeknip het en verdere behandeling vir skok toegedien het. Sy het ‘n elektrolietbad ontvang vir dehidrasie. Die pasiënt doen baie goed. Ek gaan haar vanmiddag vrylaat by Leshiba Wilderness hier op die Soutpansberge.”
‘n Saakdossier is geopen, en die verdagte wat in besit van die slang was, is volgens dr. De Villiers in hegtenis geneem. FiND iT Nuus sal by die polisie verneem hoe ver die ondersoek gevorder het.
Dr. De Villiers sal ‘n video van die slang se vrylating aan FiND iT Nuus stuur wat met lesers gedeel sal word.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



