Belastingbetalers van Tzaneen moet glo opdok vir besoek van mej. Suid-Afrika

Deel hierdie storie / Share this story

Ndavi Nokeri, mej. Suid-Afrika 2022, besoek eersdaags haar tuisdorp, maar die belastingbetaler moet daarvoor opdok.

André Moss, VF Plus-raadslid, sê die inwoners is baie opgewonde, maar nie oor die onnodige koste nie.

“Die Tzaneen-plaaslike munisipaliteit (Haenertsburg, Tzaneen) het onderneem om pa te staan vir onder meer ‘n beplande gala-ete vir 200 gaste op 27 Augustus by die Tzaneen Country Lodge, die huur van klanktoerusting, saal en verhoog, die kunstenaars wat gaan optree, luukse tente vir baie belangrike persone sowel as die verblyf vir mej. Suid Afrika en haar gevolg van 20 mense vir die twee dae,” sê Moss.

Moss sê die dorp is vervalle as gevolg van gebrekkige dienslewering en dié uitgawe is “buitensporig”.

” Dit is nie bekend wat die rojale onthaal gaan kos nie. Raadslede het vanoggend bloot ʼn kennisgewing ontvang van die munisipaliteit se voorneme om vir die geleentheid te betaal.”

Hy sê die VF Plus is nie daarteen dat Nokeri onthaal word nie, maar daar moet oordeelkundig te werk gegaan word. “Dit sou net billik wees van die munisipaliteit om die besoek en die koste daaraan verbonde in die raad te bespreek. Die VF Plus sal vrae rig oor die goedkeuring van die uitgawe en wat die bedrag beloop. Die party sou wou sien dat daar ʼn meer realistiese en bekostigbare verwelkoming vir mej. Nokeri gereël word, veral omdat sy as ʼn boorling van Tzaneen bewus is van die gebrek aan dienslewering en algemene verval van die dorp.”

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel

Lees ook: Andrew Tate verban van Facebook en Instagram