Bekende Afrikaanse skrywer sterf

Deel hierdie storie / Share this story

Die geliefde Afrikaanse skrywer, Marzanne Leroux-Van der Boon, wat veral bekend was vir haar liefdesromans, is Woensdag 17 Augustus oorlede.

NB-Uitgewers het die nuus van haar dood op Facebook bevestig.

“Ons verneem met groot hartseer en leedwese van die afsterwe van geliefde skrywer Marzanne Leroux-Van der Boon.”

Leroux-Van der Boon is op 26 Desember 1940 in Somerset-Wes in die Kaap gebore.

Sy het op Worcester gematrikuleer en onderwys gaan studeer voor sy tot 1993 ‘n Afrikaansonderwyseres aan die Rudolph Steiner Waldorfskool was.

In die 1970’s het sy kortverhale en vervolgverhale vir tydskrifte soos Sarie, Landbouweekblad en Huisgenoot geskryf en in 1974 is vier van haar kortverhale gepubliseer.

Sy het ook jeugverhale soos Somernagdroom en Die wag vir die somer geskryf.

In 1993 het sy die FAK/Helpmekaarfonds-prys vir ontspanningsleesstof vir haar roman, Klaprose teen die wind, ontvang.

In 2004 het sy ook die ATKV-prosaprys vir Granate bloei in Jerusalem ontvang.

“Marzanne was vir etlike jare die voorsitter van die Afrikaanse Skrywersvereniging en het in haar lewe ongeveer 27 boeke gepubliseer.”

Sy word deur haar dogter Lenska, haar seun Armand en twee kleindogters Aliyah en Laylah oorleef.

“Sy sal altyd onthou word vir haar liefde vir Israel en die Joodse kultuur.”

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel