‘Jy kan alles met deursettingsvermoë en harde werk bereik!’

Deel hierdie storie / Share this story

Die 35-jarige Dawie Bothma, wat met onderontwikkelde oë gebore is, se boodskap aan die wêreld is dat jy met deursettingsvermoë en harde werk alles binne jou bereik het.

Bothma, ‘n gebore Kimberliet, werk as ‘n senior administratiewe klerk by die landdroshof in dié stad. Hy vertel hy verleen administratiewe bystand aan die hof, hou registers en statistieke op datum, en tree ook op as die skakel tussen die landdros, die polisie en maatskaplike dienste.

Hy hanteer ook, onder andere, navrae van die publiek en wees hul behulpsaam van waar hul aansoek doen vir ‘n beskermingsbevel tot die beskermingsbevel uitgereik word.

“Ek werk onder geweldige druk,” vertel hy. “Maar ek geniet dit! Dis goed om ‘n verskil te maak in ander mense se omstandighede en dat hulle daarvoor dankbaar is.”

Bothma, wat sig in sy regteroog het en met sy linkeroog net tussen lig en donker kan onderskei, sê hy ervaar nie probleme in sy normale handel en wandel nie. Hy vertel hy is dankbaar dat ‘n oogkundige hom met spesiale toerusting kon help dat hy kan televisie kyk en lees.

Op skool is hy nie regtig geboelie nie, vertel hy. “Ek was in Elizabeth Conradie-skool en het in 2006 gematrikuleer.” Hy sê omdat dit ‘n skool juis vir kinders met spesiale behoeftes is, was hy nie veel geboelie nie. “Daar was kinders wat in dieselfde omstandighede was as ek, en selfs erger.”

“Ek dink dis belangrik om boelies net te ignoreer sodat hulle nie ‘n houvas op jou het nie. Mens moet net positief ingestel wees oor jouself!”

Hy sê ook hy is baie bevoorreg om ‘n ma en vriende te hê wat hom geweldig baie ondersteun en vertel sy ma ry hom rond omdat hy nie vir ‘n bestuurslisensie kwalifiseer nie.

“Met deursettingsvermoë en hande werk is alles binne jou bereik.”

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel