Gebakte piesangpoeding met brandewynkaramelsous

Deel hierdie storie / Share this story

Hierdie poeding is propvol van die heerlikste geure en kan met roomys voorgesit word.

Bestanddele:

90 ml sagte botter

375 ml bruinsuiker

375 ml melk

3 eiers

125 ml koekmeel

5 ml bakpoeier

1 ryp piesang fyngedruk

5 ml gerasperde lemoenskil

5 ml vanielje-essens

versiersuiker vir bo-op sif indien verkies

Metode:

Voorverhit die oond tot 180 °C.

Spuit ‘n oondvaste bak met die inhoudsmaat van 1,25 liter.

Meng al die bestanddele saam met ‘n elektriese menger of met ‘n handklitser tot lekker glad.

Giet uit in die bak en bak vir 40 – 60 min. tot goudbruin en gaar.

Sif bietjie versiersuiker oor en bedien met hierdie heerlike sous.

Brandewynkaramelsous

Hierdie sous hou baie lank in die yskas en is heerlik saam met roomys of selfs vrugtekoek of enige ander nagereg.

Bestanddele:

250 ml suiker

125 ml botter of margarien

15 ml water

knippie sout

250 ml melk

2 e brandewyn

2 t mielieblom (of meer indien dikker verkies)

Metode:

Verhit die suiker, botter en water in ‘n kastrol oor matige hitte en roer aanhoudend tot die mengsel ligbruin is, pasop dit brand maklik. Haal die kastrol van die stoof af en roer die melk by en kook die sous tot klontjies opgelos is. Voeg mielieblom aangemaak met bietjie melk, by en kook vir paar minute. Voeg sout by en dan die brandewyn. Roer goed. Kan koud of warm bedien word. Indien verkies kan die brandewyn uitgelaat word vir gewone karamelsous.

Bron: Shanaaz Meyer, 🍩Resepte oud en nuut🍕, Facebook

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel