16-jarige nie ‘volwasse’ genoeg vir aborsie nie

Deel hierdie storie / Share this story

Florida, Amerika, se eerste distrikshof van appèl het Maandag beslis ‘n 16-jarige meisie mag nie ‘n aborsie kry nie, want sy is nie “volwasse genoeg” om haar swangerskap te beëindig nie.

In Florida moet mense onder 18 hulle ouers se toestemming hê om ‘n aborsie te kan ondergaan, maar die 16-jarige het nie ouers nie en bly saam met ‘n familielid. Sy het wel ‘n voog.

In haar oorspronklike hofaansoek het die meisie gesê haar voog het ingestem tot die aborsie, maar sy het dit glo op die verkeerde plek op die toestemmingsvorm geskryf. Sy het ook nie die dienste van ‘n prokureur aangevra nie.

In die eerste hofsaak is gesê die meisie weet sy is nie gereed om ‘n kind te hê nie, maar sy gaan steeds nie toegelaat word om ‘n aborsie te kry nie, want sy “verstaan nie” die gevolge van ‘n aborsie nie en sy is nie volwasse genoeg om die besluit te kan neem nie.

Die regter het gesê dat sy weer aansoek kan doen as sy haar versoek “voldoende kan verwoord”. Sy het ook die opsie om nog steeds ‘n aborsie te kry as sy ‘n skriftelike kwytskelding van haar voog aan die hof kan gee.

Bronne: Business Insider, Peoples Watch Dog

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel

Lees ook: Vyfde verdagte in Hillary Gardee-saak vry sonder hofverskyning