Twee Malawiese mans, onderskeidelik 27 en 32-jaar oud, is gearresteer vir beweerde besigheidsinbraak by ‘n bekende kettingwinkel op Kuruman. Volgens kapt. Olebogeng Tawana, provinsiale polisiewoordvoerder vir die Noord-Kaap het ‘n multi- departementele wetstoepassingsagentskapspan die ondersoek gelei.
Volgens inligting het die verdagtes deur die dak van die gebou toegang verkry en die kluise oopgesny.
‘n Onbekende bedrag geld, sowel as goedere ter waarde van R600 000, wat selfone, skootrekenaars, klere en skoene insluit, is na bewering gesteel.
Die verdagtes is gevind waar hulle besig was om die gesteelde goedere by ‘n huis in Seoding, naby Kuruman, uit te pak.
Beslag is gelê op die goedere sowel as ‘n NP 200-bakkie wat tydens die misdaad gebruik is.
Brig. Nicky Mills, die waarnemende adjunk- provinsiale kommissaris vir misdaadopsporing, het die lede geprys vir hul goeie ondersoekwerk wat gelei het tot die arrestasie en beslaglegging op die gesteelde goedere.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



