Poliovirus in Londen, New York en Jerusalem teëgekom

Deel hierdie storie / Share this story

Die poliovirus het vir die eerste keer in dekades in afvalwater in Londen, New York en Jerusalem voorgekom. Geen gevalle van menslike besmetting is in Londen aangemeld nie.

Polio tas gewoonlik kinders onder die ouderdom van vyf aan en kan onomkeerbare verlamming en selfs die dood veroorsaak.

Met doeltreffende inenting het die “wilde vorm” van polio feitlik verdwyn, behalwe in Afghanistan en Pakistan, maar nou steek dit weer kop uit en het selfs in Malawi en Mosambiek voorgekom.

Behalwe genoemde “wilde vorm” is daar entstofafgeleide polio waarvan tekens in New York se rioolwater gevind is. Alhoewel baie raar, kan dit opgedoen word na inenting met ‘n verswakte lewendige virus, wat na die meer skadelike virus kan muteer, toegedien is. In Brittanje en die VSA word hierdie tipe entstof egter nie meer gebruik nie.

By een geval in New York het verlamming ingetree na die persoon die virus opgedoen het. ‘n Soortgelyke stam van die virus is in Jerusalem ontdek. Wetenskaplikes probeer nog die verband tussen die gevalle bepaal.

Die rede vir die nuwe uitbraak word voor die deur van Covid-19 gelê, toe ouers moontlik die inenting van hul kinders agterweë gelaat het. Die gebiede waarin die virus onlangs voorgekom het, staan bekend as gebiede waar inentingsyfers teen die virus besonder laag is.

Bronne: IOL, The Indian Express, Today Online

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel

Lees ook: Poliovirus in New York-stad se water gevind