Beeste kan vir die volgende 21 dae nie van een perseel na ‘n ander verskuif word nie. Volgens ‘n mediaverklaring deur mnr. Reggie Ngcobo, die woordvoerder van minister Thoko Didiza, van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, is die besluit vandag afgekondig as gevolg van die uitbreking van bek-en-klouseer.
“Die besluit is geneem om die verspreiding van bek-en-klouseer in die land te stuit. Dit beteken dat beeste nie van een perseel na ‘n ander verskuif mag word vir die volgende 21 dae nie, en dat die situasie weekliks geëvalueer sal word.”
Volgens die verklaring gaan die land tans gebuk onder 116 gevalle van die siekte, wat plase, voerkrale en gemeenskaplike areas in KwaZulu-Natal, Limpopo, Noord-Wes, Gauteng, Mpumalanga en die Vrystaat insluit.
“Die minister erken die poging wat deur boere, gemeenskappe en industrieë gemaak word om die onwettige beweging van diere vanuit positief geïdentifiseerde gebiede te neem, te beperk. Maar die siekte versprei steeds, met 15 nuwe persele en twee nuwe provinsies wat alleenlik in die laaste twee weke met die siekte geïdentifiseer is.
“Die verbod sal in die Staatskoerant afgekondig word. Enige verontagsaming van die verbod is ‘n kriminele oortreding.
Uitsluitsel is slegs van toepassing op veeartsenykundige permitte vir:
(i) Beeste vir direkte slag by geregistreerde slagpale
(ii) Slag vir rituele doeleindes
“Beeste wat reeds by skoue, veilings en in die republiek op pad is nadat hulle verkoop is, sal 48 uur grasie ontvang om hul finale bestemming te bereik. Die plaaslike staatsveearts moet gekontak word vir hierdie nodige permitte,” sê die minister.
“Die verbod is tans slegs geldig op beeste, omdat dit as die hoofrede vir die verspreiding van die uitbraak geïdentifiseer is. Die publiek word herinner dat gespletehoef-diere ook die virus kan versprei, en die beweging van skape, bokke, varke en ander gespletehoef-diere moet ook met versigtigheid hanteer word. Diere met kliniese simptome, (speekselafskeiding, blase in die mond, kruppel en letsels op die hoef) moet onder geen omstandighede beweeg word nie, en die distrikstaatsveearts moet onmiddellik gekontak word.”
Volgens me. Lizemari de Klerk, Agri Gauteng se tweede plekhouer vir Jongboer finalis van die jaar 2019, eienaar van De Blanque Brahman Stud en werksaam te Vleissentraal Bosveld, sê dat “die beperking die verbruiker die ergste sal raak met vraag en aanbod en dat vleis nog duurder sal raak. Opkomende en bestaansboere wat afhanklik is van verkope sal ook negatief deur die beperking geraak word.”



