Die maatskappy Johnson & Johnson het aangekondig dit sal nie meer talk-gebaseerde babapoeier verkoop nie, maar oorskakel na mieliestysel.
“As deel van ‘n wêreldwye portefeulje-evaluering, het ons die kommersiële besluit geneem om oor te skakel na ‘n babapoeierportefeulje wat geheel en al mieliestysel gebaseer is. As gevolg van hierdie oorgang sal talk-gebaseerde JOHNSON’S® Baby Powder wêreldwyd gestaak word in 2023,” lui ’n verklaring van die maatskappy.
Die stap kom ná duisende regsgedinge van vroue die afgelope jare wat beweer het dat die gebruik van die poeier hulle óf eierstokkanker óf mesothelioom gegee het, ‘n kanker wat die longe en ander organe tref. Die maatskappy hou by sy standpunt dat dit nie waar is nie.
“Ons standpunt oor die veiligheid van ons kosmetiese talk bly onveranderd. “Ons staan bankvas agter die dekades van onafhanklike wetenskaplike ontleding deur mediese kundiges regoor die wêreld wat bevestig dat talk-gebaseerde JOHNSON’S® Baby Powder veilig is, nie asbes bevat nie en nie kanker veroorsaak nie.”
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



