Die tweede grootste vakbondkonfederasie, Saftu, het Saterdag meer inligting gegee oor die beoogde nasionale stilstand wat vir 24 Augustus beplan word.
Saftu, met 21 geaffilieerde vakbonde, wat 800 000 werkers verteenwoordig, sê die rede vir die stilstand gaan oor beurtkrag, die toename in misdaad, die hoë werkloosheidsyfer, geslagsgebaseerde geweld en die stygende lewenskostes.
Saftu eis ook dat die maatskaplike toelaag as ‘n basiese inkomstetoelaag van R1 500 ingestel moet word.


Wat eis Saftu?
1. Saftu eis werk vir werklose mense teen ‘n “leefbare loon”;
2. ‘n Basiese inkomstetoelaag van R1 500 om die vlakke van armoede onder werklose mense aan te spreek;
3. Die verlaging van voedsel-, brandstof- en elektrisiteitspryse, asook rentekoerse;
4. Saftu eis dat Eskom nie geprivatiseer word nie en dat die kragmaatskappy se uitvoerende hoof, André de Ruyter, die Eskom-direksie en die hele ANC-regering opsy moet staan;
5. Saftu eis ‘n minimum loon van R72 per uur vir werkers;
6. Saftu eis dat die misdaad en geweld in die land tot ’n einde kom. Die vakbondfederasie eis dat misdadigers wat verantwoordelik is vir alle geweld, insluitend geweld teen vroue en kinders, in hegtenis geneem moet word;
7. Saftu eis klimaatsgeregtigheid – meer hernubare energie en meer openbare beleggings in Eskom, asook die skepping van werksgeleenthede wat klimaatsverandering teëwerk;
8. Saftu eis die hernasionalisering van Sasol, Yskor (Suid-Afrikaanse Yster en Staal Industriële Koperasie), SAL (Suid-Afrikaanse Lugdiens), en ander staatsentiteite ‘wat die ANC-regering gedeeltelik of ten volle verkoop het’. Saftu eis ook ‘n volledige transformasie by Denel, Prasa (Passasierspooragentskap van Suid-Afrika), PetroSA en Transnet om ‘maatskaplike en arbeidsbehoeftes te weerspieël’;
9. Saftu eis dat die begrotingsbesnoeiings omgekeer word en dat staatsbesteding in kritieke areas van dienslewering verhoog word;
10. Saftu eis dat meer onderwysers, verpleegsters, polisiemanne, korrektiewe beamptes, maatskaplike werkers en verkeersbeamptes aangestel word en beter betaal word;
11. Saftu eis dat sekere dienste nie deur die regering uitgekontrakteer word nie. Dit sluit sekuriteit, skoonmaakdienste, gemeenskapsgesondheidsorg, vroeë kinderontwikkeling en die uitgebreide openbare werke-program (EPWP) in.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



