Plaaslike skoonheid pryk op ‘Willem Botha Beauty’-grimering

Deel hierdie storie / Share this story

Veruska Uys is ‘n 21-jarige student in kriminologie en sielkunde aan die Universiteit van Pretoria.

“Ek is passievol, sterk, liefdevol en nederig met die vasbeslotenheid om sukses te behaal en voorspoedig te wees in my lewe. Ek is gedrewe en werk hard deur uitdagende situasies en gebruik dit as ‘n leerskool deur my lewe.”

Fotokrediet Veruska Uys

Veruska is nie ‘n vreemdeling op die gebied van loopplank- of fotografiese modelwerk nie en hierdie skoonheid het reeds as kleuter haar ouer suster, Bernice, op die loopplank dopgehou. Volgens haar het ma Gloria Uys haar slegs een keer op die loopplank laat klim en daarna wou sy nooit weer afklim nie.

“Ek is in modelkompetisies ingebore. Vandat ek tien maande oud was, was ek op die loopplank en dit het my twaalf jaar geneem om te weet wat ek vandag weet. Om ‘n model te wees, het my ‘n platform gegee om myself te verbeter en dit het my selfvertroue gegee en my gehelp om die sterk vrou te wees wat ek vandag is.”

Sy het reeds meer as dertig nasionale titels en drie internasionale titels agter haar naam, onder meer Miss Teenager RSA, Miss Teenager Universe Azania, Mejuffrou Bosveld, Royal International Miss South Africa, Overall Junior Miss Grand South Africa, Royal Queen, Royal Beauty, All Star SA, Model Challenge Winner, International Royal Top Model, asook Debutante en Best Dressed in menige kompetisies.

Sy glo daarin om ‘n positiewe rolmodel te wees en dat ‘n ware koningin respek het vir ander so hoog soos wat haar kroon is. Sy glo jy kan nie die suksesleer klim met jou hande in jou sakke nie.

Sy het die geleentheid gehad om saam met Willem Botha te werk. Willem, met sy vele talente – sanger, liedjieskrywer, fotograaf, aanbieder, akteur en nou die grimeerkunstenaar – het geen bekendstelling nodig nie. Sy grimeermeesterklasse is hoog in aanvraag en hy het sy eie grimeerreeks op die Suid-Afrikaanse mark. Willem het Veruska se hare, grimering en stilering gedoen tydens grimeermeesterklasse en fotosessies en sy het die eindresultaat as “perfek” beskryf. As gevolg van hierdie samewerking pryk haar gesig op Willem se grimering, iets waarop Veruska baie trots is.

Fotokrediet Willem Botha Beauty

Meer onlangs het sy in die Bruidsgids en die Wedding Guide verskyn en sy is aangekondig as een van die Top 30 Sarie Voorbladgesigfinaliste.

Waarna mik Veruska? Wie weet, maar sy is ‘n gesig om vir die toekoms te onthou.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel