Die atmosfeer in Roodepan was heerlik op Vrouedag toe ‘n span vroue as deel van ‘n jaarlikse tradisie in die area ‘n “cook off” gehad het.
Marlon Africa, een van die vyf beoordelaars by die geleentheid, vertel vyf strate in die area het spanne gevorm, en die spanne het mekaar in die kookkompetisie uitgedaag.
“Elke span het uit ‘n totaal van tien of twaalf vroue bestaan. Hulle het mekaar afgelos en saamgewerk om te kook, groente skoon te maak of vuur te maak.”
Marlon vertel hy het baie pret as beoordelaar gehad. “Al die spanne se kos was uniek, die tafels en ‘setups’ was uniek.”
Hy sê daar is nie aan die einde van die kompetisie ‘n wenner aangekondig nie, maar dat al vyf die spanne wenners is.
“Die kosse was verskriklik lekker, die vroue het baie moeite ingesit en die jongmense het die oumense bederf en bietjie hulle naels gedoen. Dit was ‘n baie spesiale geleentheid!”


