Dogtertjie (5) dood toe boetie (6) haar glo in kop skiet

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Vyfjarige dogtertjie van Gqeberha (Port Elizabeth) is in die hospitaal dood na haar sesjarige boetie haar vermoedelik Donderdagmiddag met ‘n .38-rewolwer in die kop geskiet het.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, het aan FiND iT bevestig die dogtertjie is Donderdagaand oorlede.

Die voorval het Donderdagmiddag tussen 13:00 en 14:00 op Bethelsdorp plaasgevind.

“Volgens die polisie se inligting het drie kinders, twee seuns van ses jaar oud en ‘n vyfjarige dogtertjie in ‘n kamer in die huis met ‘n vuurwapen gespeel,” sê kol. Naidu. “Een van die seuntjies het glo per ongeluk sy sussie met die .38-rewolwer raakgeskiet.”

Die dogtertjie is na die voorval na die hospitaal geneem en was in ‘n kritieke toestand.

Kol. Naidu sê ook toe die polisie op die toneel aankom, is die vuurwapen verwyder en kon die polisie dit nie vind nie.

Die polisie ondersoek nou ‘n saak van strafbare manslag.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel